Net Samoa tussen ‘SA’ Duitsers en Wêreldbeker

Jarrid Els – ʼn drie geruk. (Foto: DRV)

Nou staan net Samoa (en dalk die Duitse Rugbyunie) tussen Duitsland, met sy talle spelers uit Suid-Afrika, en deelname aan die toernooi om die Wêreldbeker aanstaande jaar in Japan.

Duitsland het Saterdag sy Europese aanspraakstryd in Heidelberg teen Portugal met 16-13 gewen.

Dit het egter nie maklik gegaan nie.

Portugal het rustyd met 6-3 voorgeloop danksy twee strafdoele deur sy losskakel, José Rodrigues, wat die Sharks-vyftiental in 2016 in die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig het. ʼn Drie, verdoel deur Rodrigues, het die Wolwe in die 49ste minuut selfs met 13-3 laat voorloop.

ʼn Sterk terugvegpoging, en die Duitse buitesenter, Raynor Parkinson, wat vir die Universiteit van Johannesburg (UJ) gespeel het, se derde strafdoel, in die 72ste minuut, het egter die wedstryd vir die tuisspan beklink.

Hy het ook Jarrid Els (agsteman) se drie verdoel.

Els het in 2010 Curriebekerrugby vir Grens gespeel.

Duitsland sal nou op ʼn weg-en-tuis-grondslag teen Samoa (Oseanië) uitspeel, en die wenner sal saam met Ierland, Skotland, Japan en Rusland in Groep A meeding.

Die verloorder sal in die vierhoekige heruitdun kans kry om die laaste vakature in Groep B te vul.

Die verdere betrokkenheid van die agttal Suid-Afrikaners in Saterdag se groep van 23, hang egter af van die uitstryk van die voortslepende probleme tussen die Duitse Rugbyunie en hul (die Suid-Afrikaners se) kontrakhouer, die Vereniging vir die Bevordering van Rugbysport.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.