Net sewe weke vir Kings, Cheethas voor Pro12/(Pro14)-afskop

Met hul kaarte steeds styf teen die bors weet waarskynlik net die Cheetahs en die Kings self wanneer hulle by die Pro12 inval om dit ʼn Pro14 te maak.

Die beheerliggaam, Celtic Rugby, se raad vergader Dinsdag en die verwagting is dat hulle dan die uitbreiding van die kompetisie na 14 spanne sal aankondig.

Daar is aanduidings dat die uitgebreide kompetisie vir die komende Europese seisoen is – en dit begin op 1 September, wat oor net sewe weke is.

Die skuiwe wat die Vrystaat Cheetahs Rugbyunie met hul afrigtingspersoneel gemaak het en die vertraging van die bekendmaking van die seisoen se bepalings dui daarop dat die nuwe Pro14 wel oor sewe weke sal afskop.

Ja, sewe weke is ʼn lekker ruskansie – maar is die twee spanne, en veral die Kings, in ʼn posisie om daarna in ʼn nuwe reeks te speel?

Daar is uiteraard ʼn hele aantal sake waaraan aandag gegee moet/moes word, soos onder meer –

♦ Hoewel daar aanvaar word dat die saak wel met die SA Spelersvereniging (Sarpa) bespreek is, is daar die huidige ooreenkoms dat Suid-Afrikaanse spelers in Desember ʼn maand lank “verlof” moet neem en nie mag wedstryde speel nie.

Desember is juis die besigste tyd van Britse (en Ierse) rugby.

♦ Die Pro12-base is enersyds baie opgewonde oor die toevoeging van Suid-Afrika, maar aan die ander kant is daar ook onsekerheid. Hulle kry nie net twee van die swakste spanne in die Superreeks by nie, maar die twee spanne sal waarskynlik sonder van hul bestes moet speel wat na elders op pad is.

Die Baaienaars verloor ʼn hele aantal spelers wat reeds elders gaan heenkome soek en gekry het weens die onsekerheid en gesloer met die aankondiging en ook die onderhandelinge oor die Kings se toekoms.

Hierdie spelers, wat van oral geleen is, moet vervang word – en deur wie, is ʼn tameletjie. Die spelers wat die vertrekkendes moet vervang, is hoogs waarskynlik self al by die Superfranchise’e vir volgende jaar gekontrakteer, of op pad oorsee.

Dan moet daar dus wéér by die Kings-span gebou word om met die bestes van Ierland, Wallis (elk vier spanne) en twee spanne elk uit Skotland en Italië mee te ding.

Dieselfde geld die Cheetahs. Hulle verloor ook ʼn speler of drie en het boonop skuiwe aan hulle afrigtingstruktuur aangebring.

♦ Die Pro12, wat tans oor twee rondes op tuis- en weggrondslag gespeel word (dus 22 wedstryde), sal glo nou in twee afdelings ingedeel word waar die spanne tuis en weg teen mekaar sal speel. Hulle sal ook teen elk van die spanne in die ander afdeling een wedstryd speel (9 wedstryde).

Die voorste ses spanne sal in die uitspeelwedstryde betrokke wees. Geskoei op die Franse liga sal die voorste twee spanne uitsit, terwyl die ander vier dit uitspook om in die halfeind teen hulle te speel.

♦ Uit Brittanje word berig dat borgskappe vir die reeks sowat £11 miljoen meer sal wees wanneer die Suid-Afrikaanse spanne toegelaat word. Dit is om die huidige deelnemende klubs (glo £500 000 elk) te vergoed vir die provinsiale wedstryde wat hulle verbeur, soos die vier Ierse provinsies wat jaarliks tuis en weg teen mekaar in ʼn plaaslike kompetisie speel.

Hierdie bedrag is volgens wat uit Brittanje berig is, Supersport se bydrae vir uitsaairegte.

♦ Wat ander borgskappe en TV-onderhandelinge betref, is daar nie duidelikheid oor nie. Meer geld sal nodig wees om die vergrote toernooi te administreer en suksesvol te laat vloei – en dit veral vir die twee toevoegings betalend te maak.

Eers in die 2018/’19-seisoen?

Die ander moontlikheid is dat die twee Suid-Afrikaanse spanne eers in die 2018/’19-seisoen aan die Pro12 sal deelneem.

Dit beteken die Vrystaat Cheetahs, in die Premierliga, en die OP Kings, in die Eerste Liga, sal dan vanjaar van begin tot einde aan die Curriebekerreeks kan deelneem.

Dan wag daar egter meer as tien maande se leeglê in Suid-Afrika tot 1 September aanstaande jaar terwyl die franchise’e Superrugby speel.

Daar is natuurlik die 2018-Supersportreeks waaraan hulle kan deelneem, wat die gehalte van die reeks ʼn hupstoot sal gee.

Maar sal dit wys en ook reg wees teenoor die jonges wat in hierdie reeks moet voorberei vir 2018 se Curriebekerreeks, of hulle kleim moet afsteek vir die Pro14-span?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boetman ·

Al spanne wat in dir superreeks hoort is NZ se spanne en die Lions

Lol ·

Boetman: Was dit ook jou opinie toe die Lions SA se swakste span was? Kan jy nog onthou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.