Newcastle-rugby verheug oor sterk o.20-groei

newcastle-highlanders-logo-300x237Newcastle Highlanders is verheug oor die baie o.20-spelers, en veral die gehalte van die spelers, wat vanjaar by die klub aangesluit het.

Die klub se hoofafrigter, André Swanepoel, sê tussen die talle nuwe jongelinge tel omtrent tien wat vir die hoër skole Pionier (Vryheid), Newcastle, Ferrum (Newcastle) en Volksrust se eerste spanne gespeel het.

Riekert Botha (regtervleuel), wat verlede jaar o.19-rugby vir die Griffons gespeel het, is terug by die klub, en Ruan Fourie (agsteman) wat Natal-platteland verteenwoordig het, is tussen die nuwe talent.

Die klub het met sy bevordering tot die KwaZulu-Natalse Premierliga verlede jaar `n o.20-span op die been gebring, wat naas die klub se eerste en tweede span in die bond se ligas meeding.

Highlanders se derde span verdedig vanjaar sy titel in die Noord-KZN-subunie se Derde Liga, wat hy verlede jaar gewen het.
Die klub het vriendskaplike wedstryde en proewe gereël vir 22 Februarie (proewe), 4 Maart (Piet Retief-rugbydag), 11 Maart (Bethlehem-oudskoliere tuis) en 18 Maart (Piet Retief weg).

Die liga skop op 25 Maart teen Varsity College op Kingspark af, wanneer al die Premierligaklubs by die bond se jaarlikse rugbydag in aksie sal wees.

Swanepoel sê 55 spelers oefen reeds gereeld sedert die oefeninge op 9 Januarie begin het.

Die klub het baie ervaring ingeboet met Robert Everson (slot) wat uitgetree het, en die kaptein Errit Visser (agsteman) wat na Aboe Dhabi verhuis het (daar is egter `n goeie kans dat hy sal terugkeer).

Met Alister Keet nog op die krukkelys is losvoorspelers bra dun gesaai by die klub.

Agerlangs het Corné Vermaak (heelagter), wat vir Natal-skole en op o.19-vlak vir die Cheetahs gespeel het, by Highlanders aangesluit, en is Johan Esterhuizen (losskakel), `n baie akkurate stelskopper, ook op pad terug Newcastle toe.

Swanepoel laat weet Boschpick is die 15de opeenvolgende jaar Newcastle Highlanders se hoofborg.

`n Nuwe verwikkeling is die samesmelting van die plaaslike hokkieklub met Highlanders. Hulle gaan ook hokkiewedstryde probeer reël wanneer die rugbyspanne teen klubs soos College Rovers of Durban Collegians speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.