Newcastle skud erge beseringspook af

newcastle-highlanders-logo-300x237Dit lyk of Newcastle Highlanders besig is om die erge beseringspook wat hom verlede seisoen gery het af te skud.

Die vorige Noord-Natalse kampioen is in 2016 tot die KwaZulu-Natalse Premierliga bevorder, maar byna sy hele eerste span was die een of ander tyd op die krukkerlys en dit het die klub ernstig gekniehalter.

André Swanepoel, die klub se hoofafrigter, sê een of twee spelers is nog met rehabilitasie doenig, maar die res is weer op die been.

Die Highlanders begin 18:00 Maandag 9 Januarie op Arborpark vir die nuwe seisoen voorberei.

Swanepoel sê die spelers het `n buiteseisoense program gehad om te volg, “dus sal ons Maandag sien hoe hard van die manne gewerk het”.

Hy laat weet Robert Everson, `n jare lange staatmaker, het besluit om sy stewels op te hang.

“Die klub sal Robert gewis as speler mis, maar hy het ingestem om die lynstaanafrigter te word, dus is hy nie heeltemal verlore vir die klub nie.

“Daar sal dalk ook `n nuwe kaptein gevind moet word. Errit Visser het Abu Dhabi toe geëmigreer, maar daar is `n goeie kans dat hy terug sal wees voor die liga begin.”

Van die spelers wat terug op hul pos is, is André Fourie (flank); Corné Vermaak (heelagter), wat vir die KwaZulu-Natalse skolespan gespeel het en `n junior kontrak by die Cheetahas gehad het; die blitsige Pumlani Mbatha (regtervleuel) wat terug is ná studies; Johan Esterhuizen (losskakel) terug ná `n langtermynbesering; Gift Mabasu (binnesenter),Telly Ngobese (regtervleuel), Alister Keet (agsteman) en Wynand Pleser (loskopstut).

Swanepoel sê nadat die Highlanders in 2016 met o.20-rugby begin het, het die klub baie navrae gekry en baie jong spelers stel belang om vir die klub te speel.

Die voorlopige ligabepalings is uitgereik en die Highlanders skop teen Crusaders af by die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se jaarlikse rugbydag op Kingspark, waar al die Premierligaklubs in die eerste ronde van die liga om die Moorbeker in aksie is.

Die Higlanders hou 24 Februarie proewe, en speel 4,11 en 18 Maart vriendskaplike wedstryde.

Swanepoel kan by 083 717 2152 vir inligting oor die klub gebel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.