Newcastle, Spears slaggereed; Suidkus speel 7s

Newcastle Highlanders - logoBoschpick Newcastle Highlanders en Kwantu Spears rapporteer uit KwaZulu-Natal dat hulle gereed is om hul verhoogde status gestand te doen; en South Coast Warriors bied Saterdag weer sy gewilde Suidkussewestoernooi aan.

♦ Highlanders het Vrydag proewe gehou met drie senior spanne en `n o.20-span.

André Swanepoel, die klub se hoofafrigter, is in sy noppies met oor die 70 spelers wat opgedaag het.

“Daar is volop talent in die twee wedstryde uitgestal, veral by die o.20s.

“As `n mens in ag neem dat ses van verlede jaar se eestespanspelers beseer is en eers later sal inval, is ek baie tevrede met die opkoms en talent.

“Veral opvallend was die baie ondersteuners wat kom kyk het. Daar was sommer `n lekker atmosfeer vir die spelers om in te speel.”

Die klub se vriendskaplike wedstryde begin Saterdag teen Standerton op Piet Retief se rugbydag, waar twee spanne deelneem.

“By Highlanders glo ons daaraan om met die vriendskaplike wedstryde voorkeur te gee aan die spelers wat die meeste oefeninge bygewoon het.”

Swanepoel sê die o.20-span het mooi vlam gevat en daar is reeds 23 spelers wat by die klub aangesluit het.

Hulle sal in die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se o.20B-liga oor `n enkelrondte teen klubs soos Durban Collegians, College Rovers en Varsity College se o.20B-spanne speel.

Sharksrugby plaas `n groot klem op o.20-rugby om spelers wat die skool verlaat by klubs betrokke te kry, en Swanepoel sê dis `n reusesukses by Highlanders – die eerste o.20-klubspan in die geskiedenis van Noord-Natalse rugby.

Spelers wat by Highlanders wil aansluit, kan hom by 083 717 2152 bel.

Die klub speel sy eerste Premierligawedstryd op 2 April tydens die KZNRU se groot jaarlikse rugbydag op Kingspark in Durban.

kwantu spears♦ Siya Nzimande, die voorsitter van Kwantu Spears, wat vanjaar tot die Derde Liga bevorder is, sê hulle is slaggereed vir die nuwe uitdaging.

“Ons het al ons spelers van verlede seisoen behou en heelwat nuwe talent het van ander klubs af by ons aangesluit.

“Die spelers is deeglik geïnspireer en die voorseisoense voorbereiding is goed bygewoon.

“`n Baie mededingende en taai 2016-seisoen wag op Spears deurdat ons tot die Derde Liga bevorder is nadat ons verlede jaar al ons wedtryde gewen het.”
Nzimande sê hulle is hoogs optimisties en positief ten opsigte van die taak wat voor lê.

suidkussewes♦ Die gewilde Suidkussewestoernooi van South Coast Warriors vind Saterdag op die Douglas Mitchell-sportterrein op Uvongo plaas.

Christo Henderson, die klub se hoofafrigter, sê 16 spanne sal in aksie wees en altesame 44 wedstryde word beplan.

Benewens twee Warriors-spanne en South Coast Crusaders neem spanne van Ladysmith (twee), Scottburgh, Amangcesha, Amanzintoti, Kapaailand (Maclear), Letaba, Ballito (twee), Pinetown, Ripa Rebels, Kokstad en Gamalakhe aan die toernooi deel.

Belangstellendes kan hom by 071 927 4143 bel.

Die openingseremonie begin 08:00 en die prysuitdeling is vir 18:00 bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.