Nie-Bokke trek Sharks teen Scarlets deur

Die Scarlets het hard teen die Sharks baklei. (Foto: X/ Scarlets Rugby)

Nege Springbokke het Vrydagaand in die Sharks se kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Scarlets in die Parcy Scarlets-stadion in Llanelli gespeel. Twee nie-Springbokke, die losskakel Siya Masuku en die regtervleuel Werner Kok, het die Sharks egter van rooi gesigte gered.

Die Sharks het weliswaar met 32-27 gewen en hoewel dit belangrik was om wenmomentum te behou voor komende naweek se halfeindstryd in Londen in die Europese Uitdaagbekerreeks teen Clermont, was hulle nie baie oortuigend nie.

Hulle het warm en koud geblaas. Soms was daar sprankelspel en hulle het die Scarlets in die skrums verniel, maar steeds nog nie op alle suiers gevuur nie.

Dalk wou die afrigter, John Plumtree, die spelers redelik vars hou voordat hulle Clermont pak.

Aan die ander kant kan hy heel tevrede wees met die bonuspuntsege, die Sharks se vierde oorwinning in 15 wedstryde in die reeks.

Kok (Hoërskool Nelspruit), wat aanstaande seisoen vir Ulster in Belfast gaan speel, het ʼn driekuns aan drieë behaal nadat hy drie keer in die hoekie gaan druk het ná perfekte dwarsskoppe deur Masuku.

Kok, ʼn Springbok-sewesspeler, gaan baie gemis word. Hy is passievol en vinnig en hy steek die lont by sy spanmaats met sy energieke spel aan.

Masuku (Hoërskool Piet Retief) verbeter weekliks. Hy is nog nie die volmaakte produk nie, maar sedert Plumtree hom bo Curwin Bosch en Boeta Chamberlain ingespan het, toon die Sharks se spel ʼn opwaartse kurwe.

Masuku bring kalmte, hy skep geleenthede vir sy buiteagterspelers, want hy is nie bang om die voordeellyn aan te val nie. Sy taktiese skopwerk en skoppe pale toe is weekliks in die kol en die wyse waarop hy die spel bestuur, sy teenstanders in hul eie gebied vaspen, het baie met die Sharks se nuutgevonde selfvertroue te doen.

Die Haaie se Bok-heelagter Aphelele Fassi was ook kookwater en voorlangs het die Sharks se voorry, bestaande uit Ox Nche, Fez Mbatha en Vincent Koch, die Scarlets poegaai geskrum en ʼn hele paar strafskoppe afgedwing.

Die Springbokslot Eben Etzebeth het baie druk op die Scarlets se skumskakel Gareth Davies geplaas en voordat hy in die tweede helfte vervang is, het hy ook ʼn hele paar lynstane gewen en ʼn paar goeie lopies ingekry.

Maar is dit genoeg om Clermont te troef?

Puntemakers: Scarlets: 27 (13): Drieë: Ryan Elias, Kemsley Mathias, Ioan Nicholas. Doelskoppe: Sam Costelow (3). Strafdoele: Costelow (2).

Sharks 32 (17): Drieë: Werner Kok (3), Vincent Koch. Doelskoppe: Siya Masuku (3). Strafdoele: Masuku (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.