Nie-franchise’e sal teen Superspanne sukkel

GriekwasLetterlik elkeen van die vier (uit vyf) wedstryde in die opstellende ronde van die Curriebekerreeks wat die naweek gebeeldsend is, het heerlike rugby en saam ʼn totaal van 46  drieë opgelewer.

Daar is in elkeen van die vier wedstryde – dié tussen die Griffons en die Blou Bulle was nie op TV nie – gehardlooop en gehardloop, en die balans tussen  inklim voorlangs en die bal lug gee is deurgaans gehandhaaf.

Dit was lekker om na te kyk, met ʼn hele paar goeie, selfs briljante stukkies spel, en volop  rugbypret – dis nou as jy nie te veel vir hanteerfoute en besluitneming omgee  nie.

Die vraag, ná die Bulle se wegholsege van 57-28 oor die Griffons, krap egter steeds: gaan die Preimierliga tussen die ses franchise-spanne en die drie inkomelinge nie ʼn skeeftrekkery in  die reeks veroorsaak nie?

Die sukkelende Bulle, wat Saterdag teen die Griffons met een oorwinning uit sewe wedstryde dusver opgedraf het, het die Perstruie – nogal in Welkom – eenvoudig platgeloop.

Die Griffons is tans vierde van die nie-fanchise’e en kan ook nog tussen die topdrie eindig. Al die spanne behalwe Griekwas (vyf) het nog ses of sewe wedstryde oor.

♦  ʼn Mens moet onthou dat die franchise’e na die Superreeks almal spelers sal bykry, selfs na van hulle se bestes in  die Springbokgroep vir die Rugbykampioenskap is.

♦  Die WP, wat op Potchefstroom oortuigend met die Luiperds afgereken het, sal seker sonder sy senters Juan de Jongh, Damian de Allende en die Skot Huw Jones wees. Miskien die skrumskakel Nic Groom ook en Cheslin Kolbe sal soos De Jongh seker sewes in Rio speel.

Voor kry hulle nie vir Eben Etsebeth en Pieter-Steph du Toit (of hy nou beseer is of vir die Bokke speel) terug nie. Miskien ook nie vir Siya Kolisi en die twee hakers, Bongi Mbonambi en Scarra Ntubeni nie. Die vraag is egter of die twee hakers ʼn kwaai verlies sal wees.

♦  Die Cheetahs is wel nie van die voorste Superspanne nie, maar Clayton Blommetjies, Swys Venter, Michael van der Spuy en William Small-Smith as hy weer reg is, Raymond Rhule, Sergeal Petersen, Fred Zeilinga en Shaun Venter sal agterlangs heelwat kan bydra. Voorlangs is ysters soos Francois Uys, Torsten van Jaarsveld, Uzair Cassiem, Oupa Mohoje en Paul Schoeman wat sal speel.

♦  Die Goue Leeus sal stellig die volgende spelers van die Lions bykry: die beseerde heelagters Andries Coetzee en Jaco van der Walt, en ook Sylvian Mahuza wat goed vir hulle ingestaan het; Courtnall Skosan, Rohan Janse van Rensburg, Howard Mnisie, dalk Franco Mostert. Malcom Marx sal ongetwyfeld toetsrugby moet speel.

♦  Die Sharks verloor vir Beast Mtawarira (is dit ʼn groot verlies?), Pat Lambie, JP Pietersen en Lwazi Mvovo van hulle Superspan.

♦  Die sukkelende Blou Bulle, tot die afgelope naweek, kry vir Burger Odendaal, Dries Swanepoel, Jamba Ulengo, Travis Ismaiel, Tian Schoeman, Francois Brummer, Piet van Zyl, RG Snyman, Jason Jenkins, Deon Stegmann, Arno Botha, Jannes Kirsten, Jaco Visagie en Bandise Maku, Pierre Schoeman en Grant Hattingh van die Bulls af terug.

♦  Wat by die Kings aangaan, weet of verstaan geen mens nie. Hulle Superspelers word tans deur Saru betaal en dit lyk nie of daar geld is vir die Curriebekerspan nie.

Die naweek se uitslae en opgesomde puntelyste –

Uitslae:
OP Kings 26  Sharks 34
Pumas 35 Goue Leeus XV 24
Griffons 28 Blou Bulle 57
Griekwas 33 Vrystaat XV 31
Luiperds 34 WP 43

Puntelys (gespeel, ligapunte):
Griekwas      9, 40
WP               8, 32
Pumas         9, 31
Boland          8, 30
Griffons        8, 25
Luiperds       8, 23
Goue Leeus  8, 21
Grens           8, 19
Sharks         7, 17
SWD            7, 15
Blou Bulle     8, 13
Valke            7, 13
OP Kings      9, 12
Welwitchias  8, 1

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.