Nie goed genoeg nie, Junior Bokke!

Curwin Bosch het die gelymakende doelskop teen die wind oorgeskop. (Foto: Facebook/ Timeline Photos)

Dít is net eenvoudig nie genoeg nie. So gaan die Junior Springbokke ongetwyfeld, ás hulle die halfeind kan haal, nie verder vorder nie.

Suid-Afrika kon Woensdag in Tbilisi, Georgië, op die Wêreldkampioenskap-toernooi eers ná gewone speeltyd die gelykmakende punte teen Frankryk met ʼn doel aanteken. Die telling was 23-elk.

Die Bokke was verreweg die beste span in die laaste kwart te danke aan ʼn gewillige pak voorspelers. Maar al was dit hulle eerste wedstryd, is meer oordeel en vernuf van die span verwag.

Hulle het teen die einde darem goed teruggeveg totdat die agsteman, Juarno Augustus, die uitstaande Junior Bok op die veld, ná die tweede strafskop-lynstaan op Frankryk se doellyn vir sy tweede drie oorgedryf het. Curwin Bosch het teen die baie sterk wind in verdoel met die bal wat ietwat rigtingloos rondgedryf het op pad pale toe.

♦  Die gelykop telling plaas Suid-Afrika nou in ʼn moeilike posisie.

Net die drie groepwenners is verseker van ʼn plek in die halfeind, plus ook die span wat die beste (meeste ligapunte) in die drie afdelings eindig.

Hulle moet dus met Argentinië klaarspeel en dit deeglik doen, want kry Frankryk dit ook reg om die Poemas te klop gaan punteverskil uiteindelik besluit wie gaan deur.

Albei Woensdag se gelykop spanne moet ook  nog teen Georgië speel waar maksimum punte gejaag sal word.

♦  Die Suid-Afrikaners kon net eenvoudig nie ʼn beweging teen Frankryk aan die gang kry nie. Dit wou voorkom of die opstorm-verdediging van die Franse die oënskynlik talentvolle agterlyn ontsenu het.

Keer op keer is hulle naby of agter die voordeellyn vasgevat. Daar was geen ritme en geen vloei in die agterspel nie, en die goeie besit wat veral hier teen die einde na hulle kant toe gekom het, is nie goed aangewend nie.

Talle verkeerde opsies, waaronder binnetoe breek, vasklou met ʼn man langs jou en die ewige skoppe in eg Suid-Afrikaanse tradisie wat besit omgekeer het, was aan die orde.

ʼn Paar keer het die voorspelers mooi gedryf en goed ondersteun, net om die bal met ʼn duikslag te verloor. Of in een geval sonder ondersteuning, waar spanmaats  terugstaan en sien hoe die Franse die bal van die man op die grond afneem.

Die Junior Bokke was ná net vier minute voor ná Augustus sy eerste drie gedruk en Bosch verspeel het. Bosch het ʼn strafdoel bygevoeg en dit was 10-0 in die Bokke se guns.

Maar Frankryk het met twee drieë teruggeslaan en ná rustyd weer gaan druk. Twee skepdoele van Romain Ntamack het die Franse druk volgehou, maar twee strafdoele van Bosch het Suid-Afrika in die prentjie gehou in die tyd toe Frankryk, tot hier na die einde van die derde kwart toe, die hef in die hand gehad het.

 Puntemakers –

Suid-Afrika (10) 23  – Drieë: Juarno Augustus 2. Doelskoppe: Curwin Bosch 2. Strafdoele: Bosch 3.
Frankryk (12) 23  – Drieë: Romain Buros, Florian Dafour, Baptiste Couilloud. Doelskoppe: Romain Ntamack Skepdoele: Ntamack 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico ·

Lyk my mens kan sien in watter afrigting span Roux verlede jaar was. Klink sois bokke verlede jaar gespeel het.

Lol ·

Korrekte opmerking oor Roux. Hy praat ook onoortuigend en boesem nie vertroue in nie.

Frans C ·

Die Bokkies se probleme het begin toe die Franse ‘n swak skop van die skrumskakel afgestorm het en ‘n drie gedruk het, om die telling van 10-0 na 10-5 te verander.Die skrumskakel was daarna erg ontsenu en het ‘n swak wedstryd gespeel.

Louis ·

Is die .bokkies rugbyspan streng op merriete gekies? EK glo nie

Fires ·

Curvin Bosch het ongelukkig nie vermoe om die spel te lees nie, kan nie dink hoekom hy so opgehemel word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.