Nie noodwendig maanskyn en rose op Murrayfield nie

Siya Kolisi. Foto: Anne-Christine Poujoulat.

Hoewel die Springbokke gereeld die septer teen die Skotte swaai, verwag Siya Kolisi ’n fel stryd later vandag op Murrayfield.

Skotland het onlangs verspotmaklik met Tonga klaargespeel, terwyl Australië ook verlede naweek harde bene in Edinburgh gekou het.

“Ek verwag dat ons behoorlik getoets sal word. Skotland is goed op die aanval, terwyl hul skrums ook een van hul grootste wapens is,” het Springbok-kaptein Kolisi gesê.

Die aanvallende flair van Finn Russell op losskakel en die ervaring van Stuart Hogg op heelagter kan ook vir ’n telbord-kopseer sorg waarvoor ’n Panado beslis nie sal werk nie.

“Hierdie is waarskynlik die sterkste Skotse span waarteen ek al gespeel het. Hulle speel tans goeie rugby en daar is ’n paar Britse en Ierse Leeus-spelers in hul geledere. Tog sien ons na ’n klipharde wedstryd uit.”

Sedert 1994 het die Springbokke tien van die 12 wedstryde in Skotland gewen, maar dié trotse rekord kan by ’n losievenster uitwaai as die Bokke nie hul stempel afdruk nie.

“Ons het verlede week eerstehands ervaar dat dinge gereeld op ’n rugbyveld kan verander. Ons het lanklaas in Cardiff gewen en ons kon die bordjies verhang; dieselfde scenario kan ook hierdie week in Edinburgh afspeel.

“Ons sal op ons beste moet speel om die Skotte te klop.”

Die wedstryd begin om 15:00 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Jesse Kriel (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Elton Jantjies (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Kwagga Smith (flank), Siya Kolisi (flank en kaptein), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Trevor Nyakane (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ox Nche (stut).

Skotland: Stuart Hogg (heelagter en kaptein), Rufus McLean (regtervleuel), Chris Harris (buitesenter), Matt Scott (binnesenter), Duhan van der Merwe (linkervleuel), Finn Russell (losskakel), Ali Price (skrumskakel), Matt Fagerson (agtsteman), Jamie Ritchie (flank), Nick Haining (flank), Grant Gilchrist (slot), Sam Skinner (slot), Zander Fagerson (stut), Stuart McInally (haker) en Pierre Schoeman (stut).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

N ·

Dis asof die bokke en hulle kaptein elke keer verskonings maak nog voor die wedstryd begin, so asof hulle ons wil sag maak sou hulle verloor. “Dit gaan n groot wedstyd wees, ons gaan getoets word’, ‘ons gaan moet hard werk’, ‘hulle is nie n maklike span nie’. Jinne, dis Skotland, ons is veronderstel om hulle ver te wen. Lande soos New Zeeland sien dit as net nog n span in hulle pad. Wen of verloot die wedstryd en dan maak julle verskonings. Ons is al paar keer wereld kampioene en nr 1 , Skotland nog nooit. Bokke raak seker maar bang omdat daar so baie Suid Afrikaners in die span is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.