Niemand kan kla oor die uitslag nie

Tommy Seymour – twee drieë. (Foto: Twitter)

Hoe sê hulle nou weer? Dis soos om jou suster te soen.

Dalk was die gelykoptelling van 31-elk ʼn getroue weergawe van Dinsdag se wedstryd tussen die Hurricanes en die Britse en Ierse Leeus in Wellington.

Dit het al die bestanddele van ʼn riller bevat. Sewe puik drieë, skitterende verdediging en ʼn woer-woer skepdoel in die 83ste minuut wat die Leeus kon laat wen het, maar net ʼn meter of twee te kort was.

Die Leeus was rustyd met 23-7 voor en in beheer. Ná rustyd is die voorsprong gerek tot 31-17 met minder as 20 minute oor, maar ʼn oomblik van waansin waarin die slot Iain Henderson die jong Hurricanes-heelagter, Jordie Barrett, geboorvat het en met ʼn geel kaart gestraf is, het die vonk by die Hurricanes aangesteek.

Die Franse skeidsregter Romain Poite wou eers net ʼn strafskop toeken, maar ná ʼn lang beraadslaging met die TV-skeidsregter, George Ayob, het hy op ʼn geel kaart besluit.

Net soos in die Superreeeks het die Hurricanes al hoe meer begin aanval, die gate oopgerek, en fase op fase afgedwing. Soms was dit blote stampkarrugby en die Leeus was byna uit op hul voete.

CJ Stander was teen die einde met sy hande op sy knieë, só ook die losskakel Dan Biggar, James Haskell en Justin Tupiric.

Was daar enige Leeus-speler wat sy kanse verstewig het om in die tweede toets te speel? Albei slotte, Courtney Lawes en Henderson, was puik. Lawes sal na alle waarkynlikheid George Kruis vervang, en Henderson kan dalk Itoje, wat ook in die opdrafspan behoort te wees, op die bank vervang.

Die vlugvoetige heelagter Jack Newell was ook baie ondernemend, en George North het sy waarde as vleuel bewys. Dalk, net dalk, sal hy die All Blacks pak.

Die puntemakers –

Hurricanes: 31 (7) – Drieë: Callum Gibbins, Ngani Laumape, Wes Goosen, Vaea Fifita. Doelskoppe: Jordie Barrett (4). Strafdoel: Jordie Barrett.

Britse en Ierse Leeus 31 (23) – Drieë: Tommy Seymour (2), George North. Doelskoppe: Dan Biggar (2). Strafdoele : Dan Biggar (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

vrikie ·

Pieter Kruger, nie ‘n goeie woordjie oor die Hurricanes nie ons het seker maar verskillende wedstryde gekyk

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.