Nienaber glo dat Kwagga sy man sal staan

Kwagga Smith. Foto: Gianluigi Guercia/AFP

Op 27 Julie 2019 het die Springbokke met 16 elk gelykop teen die All Blacks in Wellington gespeel. Hoewel Herschel Jantjies en Handré Pollard die groot helde was, was dit die Suid-Afrikaners se verdediging wat hulle in die wedstryd gehou het.

Die Bokke moes 223 duikslae in die kragmeting uitvoer en niemand het meer as Kwagga Smith getêkkel nie – nie eens Pieter-Steph du Toit óf Duane Vermeulen nie.

In skaars sy tweede wedstryd vir die vyftienmanspan het Smith 15 keer ’n All Blacks-speler in sy spore gestuit, terwyl hy ook twee verdedigers in sy agt lopies met die bal geklop en twee keer omgekeerde besit bewerkstellig het.

Nie ’n slegte vertoning teen ’n Nieu-Seelandse span wat spelers soos Kieran Read, Shannon Frizell en ’n aanvallende ster soos Beauden Barrett ingesluit het nie.

Smith het vóór daardie Wellingtonse stryd gesê dat dit “’n eer” is om saam met Vermeulen te speel en dat hy dié “fantastiese speler al van sy skooldae (daar by HTS Middelburg) bewonder”.

Nou moet die 28-jarige losvoorspeler die einste Vermeulen se agtsteman-skoene teen die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad volstaan.

Kyk, die charismatiese Vermeulen sou ongetwyfeld teen Warren Gatland se span uitgedraf het as dit nie vir ’n ontydige enkelbesering in ’n wedstryd teen die Stormers op Loftus Versfeld was nie.

Duane Vermeulen verlaat die veld teen die Stormers. Foto: GB Jordaan.

Sy rugbygetuigskrif sorg immers vir indrukwekkende leesstof: Hy het gesorg dat die Bulle die een trofee na die ander wen, baie ondersteuners beskou hom as die werklike leier van die Bokke se suksesvolle Wêreldbeker-veldtog en hy staan letterlik vir niemand op die rugbyveld terug nie.

O ja, hy het ook in 47 meer Springbok-wedstryde as Smith gespeel, terwyl hy 22 kg swaarder en 13 cm langer is.

Maar – anders as die Leeus se Alun Wyn Jones wat op merkwaardige wyse van sy skouerbesering herstel het – is die 35-jarige strydros nie beskikbaar vir die komende toetse nie en Smith kry ’n kans om sy kleim in die beginspan af te steek.

En dit gaan g’n maklike taak wees om vir Jack Conan, Tom Curry en Courtney Lawes te tem nie.

“O, maar ons mis vir Duane,” mor baie Springbok-ondersteuners tereg. Tog meen Jacques Nienaber dat die gewese Blitsbok-ster hom goed van sy taak sal kwyt.

Volgens die Springbok-afrigter sal Smith se sewesagtergrond nuttig teen die groot Leeus te pas kom.

“Kwagga bring iets anders tot die stryd. Te danke aan sy sewesvaardighede wat oor die jare ingeoefen is, weet hy hoe om veel groter spelers te ontduik,” het Nienaber gesê.

Ja, dit klink dalk vreemd, maar die doel van rugby is nie noodwendig om die heeltyd platgeduik te word wanneer jy met die bal hardloop nie. Soms is dit ook lekker om te sien hoe ’n speler verby ’n verdediger glip.

Vra maar net vir almal wat van die talentvolle Cheslin Kolbe hou.

En soos reeds in die All Blacks-voorbeeld hierbo genoem wéét Smith hoe om te têkkel en omgekeerde besit te bewerkstellig.

Kwagga Smith en Aphelele Fassi vier Cobus Reinach se drie teen Georgië. Foto: Phill Magakoe/AFP.

“Vanuit ’n verdedigingsoogpunt lees iemand soos Duane die spel uitstekend, terwyl hy ook die bal lekker stadig kan maak. Ek glo dat Kwagga soortgelyke dinge – maar net op ’n ander manier – kan doen.”

Daarbenewens het een van die wêreld se grootste agterspelers, die Fidjiaan Nemani Nadolo, hom destyds in Smith se hoek geskaar.

Dit is nie altyd die swaarste spelers wat meeste impak het nie en die Leicester Tigers-speler van 130 kg het getwiet dat Smith nie ’n bang haar op sy kop het nie.

“Kwagga Smith is ’n masjien. Hy laat my dink aan daardie kinders wat in o. 7-wedstryde speel. Hy is die kleinste ou op die veld, maar hy mik altyd om die grootste ou plat te trek. Hy het geen vrees nie,” het Nadolo op sosiale media gesê.

Ja, Duane Vermeulen laat gewis ’n hengse leemte, maar Kwagga Smith sal sy uiterste bes doen om die Leeus te tem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik Marthinus

Stuur Vermeulen na Jones se dokter.
Alle oorsese spelers herstel Baie vinniger as ons plaaslike spelers.
Jy hoor nooit van ons manne herstel vinniger nie.
Inteendeel jy hoor permanent, die speler beleef n terugslag.
Smaak my ons dokters kort bietjie Meer opleiding mbt rugby beserings

piet

Nee wat, Kwagga het my nog glad nie beindruk in die Bok-trui nie. Hy sal sy sokkies moet optrek in hierdie toets, ons kan nie bekostig dat hy los rondstaan hier by die losskakel rond nie. Sal sy hande moet vuilmaak en probeer omkeerbesit bewerkstellig want dit gaan nodig wees in Vermeulen se afwesigheid