Nienaber het nie Hansen se kommentaar gesien

Jacques Nienaber. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Nee, Jacques Nienaber (Springbok-hoofafrigter) het nie Steve Hansen se kommentaar oor die afgelope Leeus-reeks gesien nie, maar hy kan beslis op die eindelose kritiek van die Suid-Afrikaners se wedstrydbenadering reageer.

Hansen, die Nieu-Seelandse afrigter wat amper 87% van sy toetse aan die stuur van die All Blacks gewen het, het oor die rugby gekla wat deur die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus in die pasvoltooide reeks opgedis is.

“Jy sit met twee swaar voorspelerpakke en twee afrigters wat nie genoeg selfvertroue het om te sien wat sal gebeur as hulle die bal ’n bietjie rondgooi nie; daarom is dit net heeltyd ’n armdrukkery,” het Hansen gesê.

Volgens Nienaber kon hy tussendeur al die rondskarrelry in Australië nie veel aandag aan iets anders as sy spelers en die kwarantynregulasies skenk nie.

“Om eerlik te wees, ek het nie Steve se kommentaar gesien nie,” het die Springbok-afrigter gesê.

Steve Hansen. (Foto: Natacha Pisarenko/AP)

“Maar myns insiens beskik elke span oor sy eie groep spelers, sy eie stel vaardighede, sy unieke atletiese vermoë en sy eie DNS; nodeloos om te sê, ’n span sal dan volgens sy sterkpunte speel.”

En die Bokke se sterkpunte is ongetwyfeld hul sterk pak voorspelers, hul verdediging en hul taktiese skopwerk.

“Dit is wat rugby mooi maak – daar is verskillende benaderings en verskillende maniere om ’n toetswedstryd te wen. Jy speel volgens dit wat jy voor jou sien en jy pas daarby aan.”

Die Springbokke speel op 25 September in hul 100ste wedstryd teen die All Blacks in Townsville. En dit sal ongetwyfeld die grootste toets nóg vir die span se verdediging wees; die Kiwi’s is immers meesters op die aanval.

Tog kan die Bokke die All Blacks klop.

Conrad Breytenbach, oudskrumskakel van die Blou Bulle, het vroeër amper Nienaber se woorde beaam.

“Jy speel net so goed as wat jou teenstanders jou toelaat om te speel en dit is te betwyfel of die All Blacks so teen Suid-Afrika sal kan rondhardloop. Dit is nie noodwendig mooi rugby nie, maar verdediging wen wedstryde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kobus ·

Met alle respek.Ek wonder soms wie is die mees onbeholpe as dit by onderhoude kom,Pieter de Villiers of mnr Nienaber. Wil Rassie nie maar namens hom praat of ‘n segsman aanstel wat nie so stotter en rond en bont praat nie.

Natasha ·

Skop rugby is nie rugby nie. Ons het as kinders in die strate ‘n speletjie gespeel waar jy net die bal heen en weer skop (drywings of so iets) om die tyd om te kry. As die bokke liewer verkies om sokker te speel, hoekom doen hulle dit nie? Daar is geen beter wedstrydspel as hardloop rugby nie. Gaan kyk na die legendes van ouds en die onvergeetlike wedstryde, dit was alma hardloop rugby gewees.

Irma ·

Ja Natasha, skop-en-storm rugby is nou rerig nie aanskoulike rugby nie.

SjN ·

Ek veskil met Jaques oor sy stelling dat taktiese skopwerk die spel mooi maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.