Nienaber in binnebaan om by Rassie oor te neem

Rassie Erasmus en Jacques Nienaber in hul dae by Munster. Foto: ANA.

Ja, hy het dalk nooit vir sy eerste span op skool óf universiteit uitgedraf nie en ja, hy het nog nooit ’n hoofafrigterposisie beklee nie; maar die 47-jarige Jacques Nienaber is in die binnebaan om by Rassie Erasmus oor te neem as die nuwe Springbok-afrigter.

En vir diegene wat mor oor die voormalige fisioterapeut se kwansuise gebrek aan ervaring, kyk net na sy rekord as verdedigingsafrigter gedurende die Bokke se Wêreldbeker-veldtog in Japan.

In sewe wedstryde het die Suid-Afrikaners net 67 punte afgestaan, terwyl hulle die derde meeste duikslae (818) in die toernooi uitgevoer het.

Hoewel die Springbokke 23 punte in hul openingswedstryd teen die All Blacks afgestaan het, het Nienaber hard gewerk om die Bokke se verdediging op te skerp.

“Daar was sekere aspekte in ons verdedigingsmondering waarmee ons gesukkel het in die kragmeting teen Nieu-Seeland en ons wil graag daarop verbeter. As ek daarin vordering kan sien, sal dit my baie meer vreugde verskaf as blote punte vir/punte teen-statistiek,” het Nienaber direk ná daardie wedstryd gesê.

Buitendien stap Erasmus al lang ’n pad saam met Nienaber sedert hul dae by die Cheetahs, die Stormers en Munster.

In hul 16 maande by die Ierse klub, het hulle Munster na die eindstryd van die Guinness Pro12 gelei, terwyl die span ook tot die halfeindstryd van die Europese Kampioenebeker deurgedring het.

“Sy passie, kennis en werksetiek was van die begin af duidelik te siene. Jacques is ’n wonderlike persoon en indien hy gekies word, sal hy ’n skitterende plaasvervanger wees,” het Erasmus gesê.

Intussen het Maroela Media betroubaar verneem dat hoewel daar nog nie ’n definitiewe datum is nie, behoort die nuwe Springbok-breier binne die volgende twee weke aangewys te word.

Intussen is die Cheetahs en die Bulle se Daan Human die Bokke se nuwe skrumafrigter. Hy vervang die Wêreldbekerwenner, Matt Proudfoot.

Matt Proudfoot. Foto: Leon Lestrade. Afrcan News Agency/ANA.

Proudfoot is deur Engeland opgeraap en is nou deel van Eddie Jones se afrigterskorps. Verskeie Bok-ondersteuners het waarskynlik aan hul koffie gestik toe hy deur die media aangehaal is dat die Rose die beste span ter wêreld is.

Maar in ’n onderhoud met Rian van Heerden op Jacaranda FM het Proudfoot sy kant van die saak gestel.

“Ek het bedoel dat Engeland die beste omgewing is om in af te rig. Daar is die meeste rugbyspelers ter wêreld om uit te kies en hul reekse is baie gevestig,” het hy gesê.

Tog sal hy sy tyd by die Bokke vir niks verruil nie. “Dit was ’n absolute voorreg om deel van die Springbok-opset te wees. Maar dit is die einde van ’n era by die Bokke en die tyd was ryp om aan te beweeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tienie

Sekerlik moet daar n kortlys wees van kandidate wat kwalifiseer soos enige ander pos waarvoor aansoek gedoen word.
Publiek wil graag weet wie op die kortlys is en wat die kriteria is vir pos.

Nico

Tienie SARU begin ook maar net kader onplooiing toepas. Van die meer as 800 duikskae is seker omdat hulle die bal in die openente se keelgat afgeskop het en solank Rassie due toutjies gaan bly trek soos hy sekerlik gaan doen al is Nienaber op papier die afrigter sal hulle voortgaan om die bal verniet weg te gee met sinnelose skoppe.