Nienaber kies groep om Engelse en Kie. te tem

Die Springbokafrigter, Jacques Nienaber. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Jacques Nienaber het vandag ’n groep van 32 spelers bekend gemaak vir November se toetse teen Wallis, Skotland en Engeland.

Dit was nie noodwendig ’n maklike taak nie omdat verskeie spelers, onder wie Faf de Klerk, Pieter-Steph du Toit, Frans Malherbe en Cheslin Kolbe op die krukkelys is. Dan het Morné Steyn ook sy uittrede uit internasionale rugby aangekondig.

Daar is egter net twee nuwe gesigte, Salmaan Moerat (slot) en Grant Williams (skrumskakel), in die groep.

“Ons is twee jaar weg van die volgende Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk en daar is nagenoeg 20 toetse oor voordat ons die titel moet verdedig, daarom is elke wedstryd in die aanloop tot die toernooi van groot belang,” het Nienaber gesê.

Hoewel ’n paar spelers hulself goed van hul taak in die afgelope Curriebeker-reeks en die eerste paar rondes van die Verenigde Rugbykampioenskap gekwyt het, het die Springbok-bestuur besluit dat kontinuïteit die wagwoord is.

Willie le Roux, wat in die wedstryde teen Nieu-Seeland gesukkel het, is deel van die toergroep, terwyl die opwindende Aphelele Fassi ook dalk meer geleenthede in die laaste vesting verdien.

In De Klerk se afwesigheid sal Cobus Reinach en Herschel Jantjies ook hul kleim as skrumskakels wil afsteek.

“Dit is nooit lekker om spelers aan beserings af te staan nie, maar ons het goeie diepte en hierdie is ʼn gevestigde groep spelers wat hulself al op die groot verhoog bewys het.”

Die Bokke vertrek Vrydag na ’n oefenkamp in Frankryk voordat die eerste toets op 6 November in Cardiff begin.

Springbokgroep vir toer na Europa:

Voorspelers: Thomas du Toit, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Ox Nché, Trevor Nyakane, Joseph Dweba, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Lood de Jager, Eben Etzebeth, Salmaan Moerat, Marvin Orie, Siya Kolisi (kaptein), Kwagga Smith, Marco van Staden, Duane Vermeulen, Jasper Wiese, Franco Mostert.

Agterspelers: Herschel Jantjies, Cobus Reinach, Grant Williams, Elton Jantjies, Handré Pollard, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Jesse Kriel, Aphelele Fassi, Willie le Roux, Makazole Mapimpi, S’bu Nkosi, Damian Willemse en Frans Steyn.

  • Bepalings:

6 November teen Wallis

13 November teen Skotland

20 November teen Engeland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chantel

Hmmmm, kan daar ASB net gekyk word na die skopper, want WRAGTIG ons is darem maar beroof van baie punte

Niklaas

Sommige Bokke is gelukkig om weer gekies te wees. Dan sal ons ‘n paar Bokke mis wat beseer is.
Mag ons span goed doen daar oorkant…