Nienaber, Kolisi meen Bok-boustene is in plek

Die Springbokke se jongste voorbereidingskamp het vandag in Durban tot ’n einde gekom. (Foto: Twitter/Springbokke)

Die Springbokke se jongste oefenkamp het vandag tot ʼn einde in Durban gekom en Jacques Nienaber is in sy skik met die voorbereidingswerk wat reeds vir die komende internasionale seisoen gedoen is.

Die Suid-Afrikaners speel hul openingswedstryd van die Rugbykampioenskap op 8 Julie teen Eddie Jones se Wallabies in Pretoria, waarna kragmetings teen Nieu-Seeland in Auckland en Argentinië in Johannesburg volg.

Hulle sal dan drie opwarmingswedstryde vir die internasionale skouspel speel, terwyl daar vir oulaas in Korsika vóór die eerste Wêreldbeker-kragmeting teen Skotland geskaaf word.

“Die spelers het baie hard gewerk en hulle weet wat van hulle verwag word terwyl ons vir die toetsseisoen gereedmaak,” het die nasionale rugbyafrigter gesê.

Nienaber, wat vroeër aangedui het dat die Wêreldbeker-skouspel sy laaste veldtog aan die stuur van die Springbokke sal wees, is ook tevrede met die vordering wat die beseerde spelers toon.

“Hulle het nog ʼn waardevolle geleentheid gekry om saam met ons mediese span te werk. Ons rig nou ons visier vierkant op die Rugbykampioenskap.”

Die Springbok-kaptein Siya Kolisi is in ʼn wedloop teen tyd gewikkel om gereed vir die Wêreldbeker-toernooi te wees wat oor 100 dae in Frankryk begin.

Die 31-jarige losvoorspeler het verlede maand ʼn knieoperasie ondergaan, maar die Springbok-bestuur is vol vertroue dat hy die kapteinskapleisels vir Suid-Afrika by die uitklopskouspel kan vasvat.

Suid-Afrika se kaptein, Siya Kolisi, hou die Webb Ellis-beker saam met die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, omhoog. (Foto: Christophe Ena, AP)

“Dit is ongelooflik om te dink dat ons amper vier jaar gelede die Webb Ellis-trofee in Japan omhoog gehou het. Die spelers werk hard agter die skerms om ons die bes moontlike kans te gee om die titel te verdedig,” het Kolisi gesê.

Hy het die wenoomblik in Jokohama as onvergeetlik beskryf, maar het terselfdertyd nie doekies omgedraai oor die taai uitdaging wat op die Springbokke in Europa wag nie.

“Ons weet dat hierdie Wêreldbeker baie uitdagend gaan wees, maar ons sal dit baie geniet om weer met ʼn soortgelyke vertoning vorendag te kom en vir Suid-Afrikaners iets te gee om oor te glimlag.

“Daar is 100 dae oor om alles in orde vir die toernooi te kry en ons sal alles in ons vermoë doen om geestelik en fisiek gereed te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Wedloop teen tyd, hoekom al die druk, berei hul klaar voor asof hy nie beskikbaar gaan wees nie, hy is wel vervangbaar, wil nie weer na die tyd verskonings hoor nie.

piet ·

Ons kan nie altyd wen nie. Selfs gedurende Apartheid toe hulle die leuen probeer verkoop het dat die Bokke onoorwinlik was, was ons wenpersentasie maar 66%, Baie swakker as die All Blacks byvoorbeeld.

piet ·

Ek hoop Kolisi is reg vir aksie. Gerespekteerde leier maar meer belangrik, hy is een van ons beste spelers wat nie altyd die geval is as dit by kapteins kom nie.

David ·

Ons het nie ‘n skopper met ‘n 100% rekord nie. Selfs nie eers met ‘n 90% rekord nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.