Nienaber loof Bokke, bedank ondersteuners

Jacques Nienaber (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Springbok-afrigter Jacques Nienaber het sy span geprys vir die wyse waarop hulle op die nederlaag in die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus gereageer het. Hy meen die feit dat die spelers verantwoordelikheid geneem het om te verbeter het sy werk maklik gemaak.

Die Bokke se 21 punte in die tweede helfte sonder dat die Leeus enige punte kon aanteken, wys hoe die Suid-Afrikaners die Leeus gewurg het.

Volgens Nienaber het sy span ook al die konfrontasies wat saak gemaak het, gewen.

“Verlede week het ons die skopstryd in die tweede helfte verloor en die wyse waarop die spelers daarop gereageer het om aan te pas en beter besluite te neem, was uitstekend. Soms voel ek meer soos ʼn fasiliteerder as ʼn afrigter met al die uitstekende insette wat ons van die manne kry.”

Hy sê die spelers in die leiersgroep het baie ervaring en as afrigter is hy in ʼn bevoorregte posisie om so baie van hulle te hê.

Die span was ook oorweldig deur die steun wat hulle van ondersteuners gekry het. Talle Bok-ondersteuners het voor die tweede toets by hulle hotel opgedaag en het ook langs die roete na die stadion gestaan.

“Die ondersteuning was fantasties. Ons het so baie mense buite ons hotel gehad van vroegmiddag af. Op pad stadion toe, was die strate vol ondersteuners. Ek is so bly ons kon dit vandag doen. Ons het dit net soveel vir onsself gedoen as vir hulle.”

Hy meen die span kan nog verbeter. Hulle kan nou behoorlik oefen nadat van die spelers in isolasie moes bly toe hulle nog in Johannesburg was.

“Ons het net twee vol weke van oefening gehad. Ons bou steeds en ons sal beter word solank ons nederig bly en hard werk. Die Leeus het hierdie week nuwe planne gehad en ons het daarby aangepas. Hierdie keer was ons gereed, verlede week was ons nie.”

Pieter-Steph du Toit se besering sal vroeg in die week geëvalueer word. Hy is in die 20ste minuut deur Kwagga Smith vervang. Nienaber het juis sy spelers op die bank geprys vir die impak wat hulle gemaak het. Verlede week het die Leeus se bank presies dieselfde gedoen in die tweede helfte.

Kaptein Siya Kolisi het gesê hulle het die afgelope week ʼn bepaalde fokus gehad – hulle het geweet watter foute gemaak is en hoe om dit nie te herhaal nie. “Ons het die regte houding gehad om dit reg te stel. Dit het by die oefening begin.”

“Daar is nog baie om voor te speel en ons het nie ʼn perfekte wedstryd gespeel nie. Volgende week sal ʼn nuwe stryd wees. Verlede week se toets was goed vir ons want dit het ons speeltyd gegee. Nog ʼn week het vir ons wondere verrig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jasper

SA Rugby is besig om ‘n afwaartse kurwe te ondervind en ek dink ondersteuning is nie meer daar weens die politieke inmenging en die kwotas sisteem gebaseer op velkleur ,hoeveel rugby spelers speel oorsee en vaar uitstekend want hulle weet in Suid-Afrika word jy nie gekies op jou talent nie maar op velkleur.

Johan

As almal in die span op meriete daar is, waarom benodig ons dan ‘n kwota stelsel?