Nienaber maak tien veranderinge aan beginspan

Damian Willemse en Elton Jantjies is in die Springbokke se beginspan vir die naweek se wedstryd teen Argentinië ingesluit. Foto: Luigi Bennett/AFP.

Ná die suksesvolle vertoning teen die Britse en Ierse Leeus kan ’n mens seker vir Jacques Nienaber verskoon as hy vir die ander spelers in die Springbok-groep ook wil speelkans gee.

Die Springbok-afrigter het tien veranderinge aan die beginspan gemaak wat die afgelope Saterdag met Alun Wyn Jones se Leeus afgereken het.

Hy is veral opgewonde oor Joseph Dweba wat sy internasionale buiging in die nommertweetrui sal maak, terwyl Wilco Louw en Ox Nché saam met hom voor in die skrum sal sak.

“Joseph skroom nie om hard op die veld te werk nie, terwyl hy ’n baie beweeglike haker is. Hy het al vantevore gewys wat hy vir die Cheetahs en Bordeaux kan doen en ons sien uit om hom op die veld te sien,” het Nienaber gesê.

Siya Kolisi, wat baie goed teen die Leeus gespeel het, sal oudergewoonte die span aanvoer met Kwagga Smith en Jasper Wiese sy lostriomaats.

Frans Steyn is terug. Foto: Charly Triballeau/AFP.

’n Splinternuwe agterlyn van Elton Jantjies, Aphelele Fassi, Frans Steyn Jesse Kriel, S’bu Nkosi en Damian Willemse sal die Poemas in toom moet hou.

“Argentinië is ’n baie fisieke span en ons sal vuur met vuur moet beveg. Veral hul voorspelergroep is ’n gedugte eenheid en ons sal sterk in die skrumsituasie moet staan.”

Morné Steyn is weer eens op die Bokke se plaasvervangersbank ingesluit en hy is Suid-Afrika se voorste puntemaker (84 punte) teen die Suid-Amerikaners. Die veteraanlosskakel benodig net agt punte om 750 punte in die groen en goud aan te teken.

Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), S’bu Nkosi (regtervleuel), Jesse Kriel (buitsenter), Frans Steyn (binnesenter), Aphelele Fassi (linkervleuel), Elton Jantjies (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Kwagga Smith (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Wilco Louw (stut), Joseph Dweba (haker) en Ox Nché (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Trevor Nyakane, Vincent Koch, Marvin Orie, Marco van Staden, Dan du Preez, Herschel Jantjies en Morné Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Hulle moes vir Eben ook gerus het. Ons kan nie hom verloor weens ‘n besering nie. Dalk vir Orie begin het met Eben op die bank indien benodig word.

JN ·

Pumas gaan Elton en sy 3 rangse bokkies opdons… Moet nie te wintie raak nie die Pumas kan rugby speel…

Niklaas ·

Dis ‘n erg afgewaterde Bok span hierdie. Mens kry die indruk dat die Argentynse Pumas effe onderskat word. Ons moet oppas vir hulle. Hul is onvoorspelbaar en speel ook met passie. Hoop nie ons kry ‘n taamlike skok teen hulle nie.

Jurie ·

Daar word nie genoegsame erkenning/respek aan die Pumas gegee met díe span nie.Ons gaan op ons hêrrie kry !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.