Nienaber nooi 33 na Bok-kamp

RG Snyman (regs) vier Munster se VRK-sukses in Kaapstad. (Foto: Hansie Linde)

Die Verenigde Rugbykampioenskap is iets van die verlede en die aandag skuif nou na die internasionale rugbyseisoen.

Dit is immers ʼn Wêreldbeker-jaar.

Jacques Nienaber het ʼn groep van 33 spelers gekies om hierdie week ʼn oefenkamp in Durban by te woon.

Tien spelers wat deel van gisteraand se VRK-eindstryd was – insluitend RG Snyman – is ook in die groep opgeneem.

Eben Etzebeth, Lood de Jager en Marvin Orie is die ander slotte, terwyl ʼn magdom losvoorspelers nadergetrek is.

Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Evan Roos, Kwagga Smith, Marco van Staden, Duane Vermeulen, Deon Fourie en Franco Mostert is almal deel van die opset.

Hoewel die Springbok-bestuur vol vertroue is dat die beseerde Kolisi vir die Wêreldbeker-skouspel in Frankryk gereed sal wees, is daar gʼn teken van Handré Pollard nie.

Die 29-jarige losskakel het sy kuitspier in aanloop tot die Premierliga-halfeindstryd tussen die Leicester Tigers en die Sale Sharks seergemaak.

Die Tigers het intussen bevestig dat die voormalige Bulls-speler nie te lank op die krukkelys behoort te wees nie.

Manie Libbok en Damian Willemse is die losskakels wat die kamp sal bywoon.

Die Bokke se amptelike voorbereidingswerk vir hul eerste wedstryd teen Australië op Loftus Versfeld sal op 12 Junie in Pretoria afskop.

Springbok-oefengroep: Thomas du Toit, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Ox Nché, Joseph Dweba, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Lood de Jager, Eben Etzebeth, Marvin Orie, RG Snyman, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Evan Roos, Kwagga Smith, Marco van Staden, Duane Vermeulen, Deon Fourie, Franco Mostert, Faf de Klerk, Jaden Hendrikse, Herschel Jantjies, Cobus Reinach, Grant Williams, Manie Libbok, Damian Willemse, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Jesse Kriel, Kurt-Lee Arendse, Willie le Roux, Makazole Mapimpi en Canan Moodie.

Bepalings in aanloop tot die Wêreldbeker:

8 Julie: Springbokke teen Australië

15 Julie: Springbokke teen Nieu-Seeland

29 Julie: Springbokke teen Argentinië

5 Augustus: Springbokke teen Argentinië

19 Augustus: Springbokke teen Wallis

25 Augustus: Springbokke teen Nieu-Seeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Ek sien nie die naam van Cheslin Kolbe daar nie , of gaan die lys nog baie veranderings toon later ?

kragaap ·

Te veel spelers ingesluit agv hul reputasie ipv speel en prestasie vlakke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.