Nienaber reeds bedrywig in Dublin

Jacques Nienaber het Maandag sy eerste oefensessie saam met Leinster gehad. (Foto: X/Leinster)

Jacques Nienaber het nie die gras onder sy voete in Dublin laat groei nie en hy was reeds Maandag op die oefenveld saam met Leinster.

Die voormalige Springbok-hoofafrigter, wat in Oktober die Webb Ellis-trofee saam met sy spelers in Parys omhoog gehou het, is deesdae ʼn senior afrigter by die Ierse rugbyreuse.

Nodeloos om te sê is die Leinster-afrigterskorps opgewonde oor Nienaber se koms.

“Jacques het baie kennis. Hy het twee Wêreldbeker-toernooie saam met die Springbokke gewen en ons sal graag meer oor die spel by hom wil leer. Jy is beslis gewillig om na iemand te luister met ʼn bewese Wêreldbeker-getuigskrif,” het Robin McBryde, Leinster-voorspelerafrigter, gesê.

In sy dae as Springbok-hoofafrigter het Nienaber 27 van sy 39 toetse aan die stuur van die span gewen.

Sy wenpersentasie van 69% is beter as dié van Jake White (66%), Heyneke Meyer (66%) en selfs Rassie Erasmus (65%).

Volgens McBryde stel die 51-jarige Suid-Afrikaner nie daarin belang om in die kollig te wees nie; hy wil veel eerder sy afrigtersfluitjie die praatwerk laat doen.

“Hy is tydens ʼn spanvergadering aan almal voorgestel, ons het hande geklap en dit was dit. Hy het daarna dadelik sy stempel op die oefenveld afgedruk en hy het beslis vooraf sy huiswerk gedoen.”

Nienaber is bekend vir sy uitstekende verdedigingswerk saam met die Springbokke en dit is juis dié sterk punt wat Leo Cullen (hoofafrigter) groot laat glimlag.

“Ons wil almal meer by Jacques leer en iemand soos Sean (O’Brien – verdedigingsafrigter) sal veral onder sy bekwame toesig groei. As ʼn span kan ons net beter word,” het Cullen gesê.

Dit is egter nie net sy tegniese vaardighede wat van Nienaber ʼn goeie afrigter maak nie. Verskeie Springbokke het hom ook al vir sy menswees geloof.

“Dankie vir alles wat jy vir my en die span gedoen het. Jy is ʼn ongelooflike mens en afrigter en dit was ʼn voorreg om vir jou te speel,” het Damian Willemse destyds op sosiale media geskryf.

Die Springbok-heelagter het Nienaber onder meer as slim en lojaal beskryf. Hy het ook sy waardering vir die afrigter se harde werk uitgespreek om die span meer inklusief te maak.

“Ek sal altyd ons gesprekke vóór oefensessies onthou en hoe jy my ondersteun het. Ons almal het by jou leierskap gebaat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.