Nienaber se Leinster op koers na Europese glorie

Jacques Nienaber. (Foto: Romain Perrocheau/AFP)

Ondanks Brian O’Driscoll se kritiek dat Leinster van sy aanvallende flair onder Jacques Nienaber se toesig kwyt is, het die Ierse klubreuse vyf drieë gedruk om La Rochelle uit die Kampioenebeker te boender.

Leinster het die kragmeting met 40 – 13 beklink en sal teen die Northampton Saints in die halfeindstryd van die toernooi te staan kom.

Sodoende het die Dublin-span soete wraak teen die Fransmanne geneem nadat hy verlede jaar met 27 – 26 in die eindstryd teen die einste La Rochelle vasgeval het.

James Lowe het twee keer vir die wenspan gedruk, terwyl skrumskakel Jamison Gibson-Park met ʼn oomblik of twee van briljantheid vorendag gekom het.

“Dit is ʼn vreugde om saam met Jamison te speel. Hy is doodeenvoudig net ongelooflik,” het Caelan Doris gesê.

“Hy hou die tempo lekker hoog en handhaaf ʼn uitstekende balans tussen opportunistiese spel en die bereidwilligheid om by ons wedstrydplan te bly.”

Volgens die Leinster-kaptein verdien sy spelers ʼn klop op die skouer vir hul aanvallende spel sowel as hul raakvat verdediging.

“Wat verdediging betref, was dit ʼn baie goeie vertoning. ʼn Mens kon dit met van die duikslae op La Rochelle se groot baldraers sien en hulle het gesukkel om voorvoet momentum op te bou. Dit het ongetwyfeld tot ons oorwinning bygedra.”

Vroeër was O’Driscoll skepties oor Nienaber se vertoning by Leinster.

Die 45-jarige Dublin-boorling, wat in sy speeldae op senter vir Ierland geskitter het, verwys onder meer na die klub se vorige oorwinning van 36 – 22 teen die Leicester Tigers; ʼn span wat verlede jaar met 55 – 24 oordonder is.

Nienaber, wat in 2019 en 2023 die Webb Ellis-trofee saam met die Springbokke omhoog gehou het, staan deesdae Stuart Lancaster se seniorafrigterskoene by Leinster vol.

“Ek dink nie hul aanvallende spel is meer so vloeiend as in Stuart se dae nie; veral as ʼn mens na die wedstryde van verlede jaar en in 2022 kyk,” het O’Driscoll op ʼn uitsending van Off the Ball gesê.

Volgens die voormalige Ierland-kaptein kan dit dalk toegeskryf word aan die Suid-Afrikaanse afrigter se voorliefde vir verdedigingswerk.

Nienaber, wat 69% van sy toetse saam met die Springbokke gewen het, wil juis sy verdedigingstempel by Leinster afdruk.

“Wat verdediging betref kan jy die span ʼn bietjie meer ruimte gun omdat dit tyd sal neem om aan ʼn nuwe stelsel gewoond te raak,” het O’Driscoll voortgegaan.

Vyf drieë teen die verdedigende kampioenspan vertel egter ’n ander storie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.