Nienaber se snoeiskêr nog weggebêre

Handré Pollard: Een swak wedstryd maak nie van iemand ’n slegte speler nie. Foto: Hansie Linde.

Die Springbok-bestuur het die span vir Saterdag se tweede wedstryd teen die Wallabies op die Suncorp-stadion gekies.

Daar is egter steeds g’n teken van Morné Steyn in die wedstrydgroep nie, selfs ná die Suid-Afrikaners se treurige stelskopvertoning verlede Sondag teen die einste Aussies.

Steyn is nou wel 37 jaar oud, maar die Blou Bul-losskakel korrel nie sommer skeef nie; vra maar vir die Britse en Ierse Leeus.

Handré Pollard sal weer die nommertientrui vir die Bokke dra, met die wisselvallige Damian Willemse op die plaasvervangersbank.

Een swak wedstryd maak beslis nie van iemand ’n slegte speler nie en Pollard is ongetwyfeld goed genoeg om met ’n uithalervertoning vorendag te kom.

Marvin Orie is in die plek van Lood de Jager (wat die wedstryd weens harsingskuddingregulasies misloop) gekies, terwyl Trevor Nyakane saam met Frans Malherbe en Bongi Mbonambi in die skrum sal sak.

Volgens Jacques Nienaber (afrigter) is kontinuïteit wat spankeuses betref baie belangrik; die Bokke werk immers hard op die oefenveld om die foute van verlede week reg te stel en ondersteuners hoef nie nou al paniekerig te raak nie.

“Dít is ’n ervare groep spelers wat weet hoe om in druksituasies te presteer en ons is maar net te bewus van die feit dat ons sterker sal moet vertoon,” het Nienaber gesê.

Die Bok-afrigter meen dat die Wallabies weer eens met ’n vurige aanslag vorendag kan kom.

“Terselfdertyd weet ons ook waartoe ons in staat is. Ons het verlede week baie geleenthede vir onsself geskep om die wedstryd te wen, maar ons het dit net nie benut nie.”

Lukhanyo Am sal ook Saterdag wil beter speel. Foto: GB Jordaan.

Die Springbokke het die Rugbykampioenskap in 2019 gewen en volgens Nienaber sal hulle die drie oorblywende toetse as uitklopwedstryde benader.

“Ons wil ons titel verdedig en ons sal hard werk om dit te doen.”

Intussen word daar in die Nieu-Seelandse media gehoop dat die Springbokke vir die Wallabies hierdie keer ’n rugbyles sal leer; die All Blacks is op soek na sterker teenstanders nadat hulle maklik met Argentinië en die Aussies klaargespeel het.

Die wedstryd begin Saterdag om 09:05 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), S’bu Nkosi (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Franco Mostert (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Marvin Orie (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Trevor Nyakane (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Marco van Staden, Kwagga Smith, Jasper Wiese, Herschel Jantjies en Damian Willemse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

SlinkseKoljander ·

So mens kan maar veilig jou geld op Australia sit, en ons is nou gelukkig met verloor??

Jaco ·

Faf was die grootste probleem op die veld. Hy het geen dissipline getoon nie. Ruk en pluk en gooi hande in die lug soos n sokker speler. Gaan die span nog duur te staan kom.

Anthony ·

Ek sukkel ook maar om behoorlik vatplek te kry aan die ou

Corne123 ·

Ek dink dit goeie besluit een af naweek met die skooskoen en almal vergeet dat hy die wereldbeker vir ons gewen het.Asook hoefeel ander wedstryde nou na 1 uit hoefeel wat die ou n afnaweek belewe wil mense hom uit he.

piet ·

Van wanneer af het hy die wereldbeker vir ons gewen? Het toe wel beter geskop as die misoes wat ons verlede week gesien het.

jou gewete ·

kan mense asb tog oor die wereldbeker gelukkie kom, dis jare gelede al

SjN ·

So Mnr Nienaber, die voorspelbare weg skop spel patroon duur voort.

piet ·

Hy’t mos reeds gese dis hoe hulle speel. Die enigste manier wat hulle moontlik sal afsien van die gemors, is as die Bokke ‘n groot dragslae kry. Dalk moet dit gebeur (sal nie teen Australie gebeur nie) maar kan dalk gebeur teen die All Blacks. Sal dalk nie ‘n slegte ding wees nie. Ek sien ook een van die eerste verskonings wat hy gehad het, is dat daar gebou word na die volgende wereldbeker. Ek lag elke keer as ‘n afrigter dit se.

Michael ·

Ons hoop maar Erasmus is ook in die omgewing want hy is tog maar die eintlike afrigter. Nienaber kan net verdediging afrig, sonder Erasmus sal hy nerens kom nie

JohanR ·

Nienader is soos ‘n spook. Niemand sien hom nie, en niemand weet wie hy is nie. Met ou Pieter de Villers kon jy hom darem herken aan sy snoer. Miskien moet Nienaber ‘n wilde snor groei?

Kobus ·

Wonder wie die swakste onderhoude voer. Ons het vir PdV gelag maar o wee,hierdie Nienaber vat die koek

MAGRIETHA ·

Kobus rynag is no 1 skrumskakel waar is hy hy vinnig agter skrum en is altyd by losskrums , jul hou die ou wat ons 10 punte gekos het waar is goosen vir losskakel of vir replacement

piet ·

Stem, daar is beter opsies. Franco op slot en bring die Du Preez broers in die lostrio. Raak tog net ook ontslae van liggewig Kwagga, useless.

Kiepie ·

Ek glo nie enige iemand eis werklik Pollard se kop na slegs een swak (skop)wedstryd nie. Wat egter onverstaanbaar is is dat Nienaber nog nie geleer het dat jy op hierdie vlak ‘n “back-up” skopper moet hê. Juis omdat een of twee mislukte skoppe die uitslag van ‘n wedstryd kan bepaal. (En nee, Willemse is baie dinge maar hy is nie ‘n skopper nie).
Carel du Plessis het dit in 1997 al op die harde manier geleer toe hy nie vir Jannie de Beer teen die Leeus wou kies nie en moes met sy afrigterspos daarvoor boet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.