Nienaber: ‘Teleurstellend om in die doodsnikke te verloor’

Jacques Nienaber. Foto: Twitter.

Vir die derde keer vanjaar het die Springbokke ’n toets in die laaste paar minute van die wedstryd gehensop toe Marcus Smith die wenstrafskop oor die dwarslat gejaag het.

Dit was in die 79ste minuut van die tweestryd op Twickenham.

In ander soortgelyke wedstryde was Quade Cooper die held vir die Wallabies, terwyl Jordie Barrett die wedstryd vir die All Blacks beklink het.

“Dit sou goed gewees het om die jaar op ’n wennoot af te sluit. Om weer te verloor nadat ons tot die 78ste minuut met een of twee punte voorgeloop het, is baie teleurstellend. Dit is iets waarna ons beslis sal moet kyk en op verbeter,” het Jacques Nienaber gesê.

Die Springbokke het agt van hul 13 wedstryde in 2021 gewen. Hulle het terselfdertyd 334 punte aangeteken en 224 afgestaan.

“Ek het ná die tyd vir die span in die kleedkamer gesê dat hulle beter is as wat hul wenpersentasie (62%) ’n mens laat dink – daardie wedstryde wat ons met ’n paar punte verloor het, het beslis ’n rol gespeel.”

Volgens die Springbok-afrigter word daar reeds planne beraam om ’n beter vertoning in 2022 te lewer.

Daar sal ongetwyfeld na die Bokke se stelskopwerk gekyk moet word. Om skoppe na die pale te verbrou en dan uiteindelik met een punt te verloor sal enige ondersteuner na die boegoebrandewyn laat gryp.

“Ons kan verbeter en ons is nie waar ons wil wees nie. Ek wil nie nou in fynere detail ingaan nie, maar daar is beslis dinge waaraan ons kan werk – waaronder om dinge beter op die veld uit te voer.”

Dan was die Bokke se verdediging ook nie te waffers nie – gisteraand het Manu Tuilagi, Freddie Steward en Raffi Quirke dalk te maklik hul pad na die Springbok-doellyn gevind.

“Engeland het goed voor hul tuisskare gespeel, maar dit is nie lekker om weer in die doodsnikke te verloor nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Snowball ·

Dalk help ‘n paar behoorlike skoppe(rs) en klappe voor 2022 aanbreek.

casper ·

As julle die skoppe wat verbrou was in reken kon ons maklik wen
Gee Frans Steyn elke skop om te doen !!

piet ·

Ons rekord is gewoonlik maar so 7 wenne uit 12 per jaar. So dit was eintlik maar ‘n “normale” seisoen vir ons wat die wenpersentasie aanbetref.

piet ·

Ons het ‘n probleem op skakelpaar. Faf kry baie kritiek maar hy is bestendig. Ons het gesien hoe dinge op 9 agteruitgaan nadat Faf nie beskikbaar is nie. Nie een van Reinach of Jantjies is die antwoord nie. Kry ‘n plaasvervanger vir Faf (tot hy reg is) wat die bal vinnig kan uitkry. Almal weet dat ek nog nooit ‘n Pollard fan was nie, vir my te lomp vir ‘n losskakel. Hy’s ook nie op vorm nie. Elton ook nie die antwoord nie maar hy’s beter as Pollard op die oomblik. Nog ‘n posisie wat aangespreek moet word, is heelagter. Wille moet gaan ons kan nie langer met hom voortgaan nie. Fassi, Gelant of Green moet kans kry sodat ons kan sien wat hulle kan doen. Daar gaan net niks aan in die agterlyn nie, dit begin by die skakelpaar en daar is geen vuurwerke van die heelagter posisie af nie.

N ·

piet. Stem saam oor die skakelpaar. Maar Kriel en Willie is ook ver onder springbok gehalte.. Hoe sal jou perfekte huidige 15 tal vir die bokke lyk? En hul reserves?

piet ·

As almal beskikbaar is, kies die span basies homself so ouens soos Faf, PSDT, Kolbe sal in die span instap. Soos ek se daar is slegs enkele posisies waar daar rerig ‘n probleem is. So ek sou ‘n beter backup vir Faf soek, dalk weer kyk na Goosen op losskakel en dan die manne wat ek voorgestel het, kans gee op heelagter. Fassi waarskynlik die ou wat eerste in die ry staan vir ‘n beurt. Ons sal ook ons spelpatroon en mindset moet aanpas as ons meer met die agterlyn wil uitrig. In die opsig is ek nie bekommerd oor Faf nie want ons weet hy kan die spel vinnig maak indien nodig, ons het dit die jare gesien toe hy vir die Leeus gespeel het. Ek dink egter nie Pollard het dit in hom om meer vloeibaar te speel nie daar gaan altyd ‘n effense “blok” wees met hom op losskakel (gesukkel om die agterlyn weg te kry) in my opinie. Een ding is verseker, ons sal meer aanvallend met ons agterlyn moet speel ons gaan nie teen alle spanne altyd in die voorspelers oorheers soos tans die geval is nie.

N ·

Moet saam stem. As beseerde spelers soos PSDT terug is sal ek nie sommer karring aan die voorspelers nie. Sal wel vir spelers soos Elrigh Louw en Evan Roos deel maak van die groep. Hulle is toekomstige bokke en ons gaan een van die dae opvolgers moet he vir Duane ens. Agterlyn, glo Reinach het meer in hom, sal bietjie vasbyt en meer speelkans gee. Pollard het al baie wedstyde vir ons gewen, dink wel hy en Jantjies het te min kompetisie, sal Goosen in trek in die groep soos jy sê (hy kan dus ook senter en heelagter cover). Fassi se tyd is hier, Turone Green ook. Glo as mens Kolbe se talent ten volle op heelagter gebruik en Fassi op die vleul, met Tyrone Green/Steyn op plaasvervanging dan het ons n sterk groep. Jessie Kriel en Willie moet maar n laaste paar rande gaan maak oorsee. My opinie

Harley Davidson ·

Wat teleurstellend is is die proses wat julle volg en ondersteun om spelers te kies.

MakersMark ·

Lyk of dit werk bokke is nou al twee jaar, behalwe vir ‘n week, nr 1 in die wêreld.

Herman ·

SA het die wedstryd verloor in die eerste 20 min toe hulle 14 punte afgestaan het en net 3 kon aanteken. Nie in die laaste min nie.

Frans ·

Die agterlyn se verdediging laat veel te wense oor wn omdat daar spelers is wat vinnig uit die lyn opskiet en geklop word is daar gate so groot soos kimberley se gat om deur te gaan en drieë te ruk.
Ons agterlynspel is nie dieselfde standaard as ons voorspel nie.

Tinkie ·

Ek stem saam. Pollard het nog nooit beindruk nie. Seĺfde met le Roux. Beide kan maar gaan.

piet ·

Korrek en die feit is ons was voor teen die einde, toe verloor ons dit. So jy kan nie iets blameer wat vroeg in die wedstryd gebeur het nie, want daai skade was reeds herstel en toe laat glip hulle dit.

SjN ·

hulle moet minder planne beraam, tans werk hul skopplan nie en en die beste speler in die posissie moet gekies word. Back to basics.

Niklaas ·

Die heelagter of een vleuel moet eintlik Fassi wees . Weet nie waarom kry hy nie speelkans nie. Kriel beindruk my nooit nie. Willie se beste dae is ook verby , soos Herchell s’n .Waarom gly Pollard se voete so baie onder hom uit , het die arme man nie stewe-sool “studs” nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.