Nienaber tevrede met Bok-diepte

Evan Roos. Foto: GB Jordaan .

Cheslin Kolbe, André Esterhuizen, Cobus Reinach, Jasper Wiese en Vincent Koch se klubpligte beteken dat hulle nie vir hierdie naweek se Engeland-toets op Twickenham oorweeg word nie.

Tog is Jacques Nienaber tevrede met die diepte van sy Springbok-groep.

Die Springbok-afrigter het ʼn hele paar veranderinge aan die opdrafspan gemaak wat verlede naweek met Italië in Genua klaargespeel het.

Spelers soos Jesse Kriel, Makazole Mapimpi en Evan Roos sal hul bes doen om die Rose op die agtervoet te plaas, terwyl Thomas du Toit, Marco van Staden en Canan Moodie hul stempel as impakspelers op die toets sal wil afdruk.

Manie Libbok, een van die helde teen Italië, is weer op die plaasvervangersbank ingesluit.

“Ons is baie opgewonde om te sien wat hierdie groep spelers teen ʼn sterk Engeland-vyftiental kan vermag. Die span spog met talentvolle jong spelers wat gereeld hul hande opsteek, terwyl die ervare ouens al ʼn lang pad met ons gestap het,” het Nienaber gesê.

Jacques Nienaber (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Volgens die Bok-afrigter is ʼn toets op Twickenham een van die hoogtepunte van ʼn speler se rugbyjaar.

“Oudergewoonte kan ons net ʼn sekere getal spelers kies en ons moes kreatief te werk gaan om ʼn goeie balans te handhaaf; veral met die oog op spelerkombinasies en om aan opwindende jong spelers ʼn kans op die groot verhoog te gee.”

Nienaber verwag ʼn taai toets teen Engeland wat verlede week gelykop teen die All Blacks op die einste Twickenham gespeel het.

“Engeland sal hierdie wedstryd met dieselfde ingesteldheid as ons benader – om hul seisoen op ʼn wennoot af te sluit en om momentum vir die Wêreldbeker-toernooi op te bou.”

Die wedstryd begin Saterdag om 19:30 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Damian Willemse (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Evan Roos (agtsteman), Franco Mostert (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Marvin Orie (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ox Nché (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Thomas du Toit, Marco van Staden, Kwagga Smith, Jaden Hendrikse, Manie Libbok en Canan Moodie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piet ·

Ek lees dat sedert Nienaber en kie afrig, die Bokke se wenpersentasie teen “top tier” lande 46% is. Dit vertel eintlik die storie van ons in vergelyking met die top lande in die wereld.

Leon ·

Groot ontnugtering wag saterdag op fue bokke en nienaber. Hul vlieg nou hoog na wen oor italie maar gaan baie vinnig en hard aarde toe kom.

Kokkie ·

Te oordeel aan die vertonings van SA A sal ek nou nie sê daar is verskriklik baie diepte in SA – rugby nie. Nienie moet seker dink dat ons halfblind is. Vir wie probeer hy bluf? Of miskien glo hy homself en as die Bokke , dan is dit die skeidsregter se skuld

SjN ·

Sal maar wag en sien wat gebeur, gaan nie so maklik wees soos teen Italie nie.

Niklaas ·

Ons moet nie te gerus wees teen die Rose nie. Engeland is nie Italië se spannetjie , en ons moet dit besef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.