Nienaber tevrede met oefenkampvordering

Die Springbok-afrigter Jacques Nienaber. (Foto: Twitter/Springbokke)

Die eerste week van die Springbok-oefenkamp in Pretoria is verby en Jacques Nienaber is tevrede met die spelers se vordering.

“Dit is wonderlik om al die spelers byeen te hê en om hulle weer gewoond aan die intensiteit van ons oefensessies en strukture ván die veld te maak. Die groep bestaan uit spelers van 19 verskillende klubs en dit was noodsaaklik om almal op dieselfde bladsy te kry,” het die nasionale rugbyafrigter gesê.

Die groep, wat verlede naweek aangekondig is, het ʼn paar oefen- en gimnasiumsessies agter die blad, terwyl spanvergaderings ook aan die orde van die dag in aanloop tot die eerste Rugbykampioenskap-toets teen Australië in Pretoria was.

“As afrigters is ons tevrede met die gehalte van die sessies en dit is lekker om te sien hoe vasberade die spelers is om in die Rugbykampioenskap te speel en sodoende ʼn kleim vir ʼn plek in die Wêreldbeker-groep af te steek.”

Handré Pollard en Damian Willemse se beserings het die Springbok-bestuur genoop om ʼn noodroep na Elton Jantjies in Frankryk te stuur.

Volgens Nienaber kan die Suid-Afrikaners dit nie bekostig om ʼn toetsseisoen in te gaan sonder dat die belangrike losskakel-posisie gedek word nie.

“Ons het die opsies plaaslik en oorsee oorweeg, nadat ons almal regdeur die seisoen dopgehou het – en Elton is die volgende losskakel in die ry.

“Hy ken ons denke en stelsels van binne en kan maklik inskakel. Ons skop oor drie weke teen Australië af en as Damian nie ten volle fiks is nie, sal Elton gereed wees om te speel.”

  • Bepalings:

8 Julie: Springbokke teen Wallabies in Pretoria

15 Julie: Springbokke teen All Blacks in Auckland

29 Julie: Springbokke teen Argentinië in Johannesburg

5 Augustus: Springbokke teen Argentinië in Buenos Aires

19 Augustus: Springbokke teen Wallis in Cardiff

25 Augustus: Springbokke teen All Blacks in Londen

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.