Nieu-Seeland het die bal met Brad Shields laat val

Brad Shields (Foto Twitter@brad_shields)

Die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZRU) sê hy het ʼn “spesiale vergunning” aan die Engelse Rugbyunie (RFU) gegee om die Hurricanes-flank en kaptein, Brad Shields, vir die komende reeks teen die Springbokke beskikbaar te stel, maar hy het tóg sy ernstige bedenkinge daaroor.

Shields is dadelik deur die Engelse afrigter, Eddie Jones, gekies vir die toer van drie toetswedstryde teen die Springbokke in Junie, maar sy insluiting sal die rugbybande tussen Nieu-Seeland en Engeland verder versuur.

Shields, 27, wie se ouers albei in Brittanje gebore is, keer ná die toetsreeks terug na Wellington waar hy nog ʼn paar wedstryde vir die ‘Canes sal speel. Hy verhuis aan die einde van die seisoen na Londen waar hy voortaan vir London Wasps sal speel.

Dis ʼn tameletjie, want volgens Wêreldrugby se regulasies, is Shields geregtig om vir Engeland te speel, maar die Nieu-Seelanders sê nee, hul ooreenkoms bepaal dat Shields hom vir Nieu-Seelandse rugby beskikbaar moet stel terwyl hy steeds in Nieu-Seeland speel.

Maar hoekom het die All Black-keurders nie vroeër vir Shields gekies nie, want dan sou die Engelse hom nie kon kies nie?

Hy speel al sedert 2010 vir Wellington en het reeds 54 keer vir die Wellington Lions en 91 Superrugbywedstryde vir die Hurricanes gespeel.

Ja, hulle wou hom verlede jaar as ʼn plaasvervanger vir Jerome Kaino vir die Europese toer oproep, maar dit was ʼn klap in die gesig.

Het die Nieu-Seelanders ook al ooit ʼn oog geknip wanneer hulle die beste spelers van Samoa, Tonga en Fidji vir die All Blacks gekies het?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.