Nieu-Seelanders bly Franse klub in skande steek

Dit lyk of die Nieu-Seelanders by die Franse Top14-klub Racing 92 maar net nie kan ophou skandes maak nie.

Luidens die jongste berigte uit Parys was die gewese Chiefs-stut Ben Tameifuna kort ná Racing se slae teen Lyon in ʼn bakleiery met sy Samoaanse spanmaat Viliamu Afatia, eweneens ʼn stut, betrokke.

Ondanks die feit dat die geregsdienaars se boeie glo te klein vir Tameifuna se dik voorarms was, het hy die nag agter tralies deurgebring.

Vir Afatia het dit ʼn nag met ʼn bebloede en geswolle gesig in die hospitaal besorg, luidens die berigte, maar hy gaan blykbaar nie ʼn saak aanhangig maak nie.

Racing se All Black-slot Ali Williams is in April vanjaar deur ʼn Franse hof met sowat R24 000 beboet nadat hy verlede jaar betrap is dat hy kokaïen koop. Boonop is die klub se Nieu-Seelandse losskakel-held Dan Carter in Februarie van dronkbestuur aangekla, ʼn voorval wat hom onder meer ʼn lonende borgskap gekos het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.