Nieu-Seelanders kry van alle kante wind van voor

all-blacks-cropNou weet ons waarom Nieu-Seeland die wêreld se beste rugbyspan is, want hulle systap nie net die teenstanders op die veld nie, maar hul rugbybase het ook die vermoë om te pypkan.

Dink maar Aaron Smith se gekafoefel in ʼn openbare toilet vir gestremdes; die rondvallery nadat Losi Filipo van Wellington tronkstraf vrygespring het nadat hy ʼn wildvreemde model in die openbaar ernstig  aangerand het; die Chiefs se manewales met ʼn ontkleedanseres; die Chiefs se afjak van karwagte ná ʼn oefening; die “plant en vind” van ʼn luistertoestel in Sydney voor verlede jaar se Bledisloe-toets; en nou die bevinding dat die All Black-slot van die Blues, Patrick Tuipulotu, onskuldig bevind is aan die gebruik van ʼn verbode middel.

Ek weet deur watter hel spelers gaan wat positief getoets word. Ek onthou destyds hoe platgeslaan Balie Swart was, hoe Johan Ackermann se loopbaan aan skerwe was terwyl hy herstel het ná ʼn ernstige kniebesering, hoe Bennie Nortje in sak en as was. Reg of verkeerd, daar was baie ander spelers voor hulle en ook ná hulle.

Tuipulotu is reeds verlede jaar in November positief getoets  tydens die All Blacks se toer na Amerika, Ierland en Brittanje. Hy is weens  ‘persoonlike redes’ huis toe gestuur, terwyl die span in Dublin voorberei vir die toets teen Ierland.

Dis nooit bekend gemaak nie en toe dit eers uitgelek het, het die Nieu-Seelandse Rugbyunie dit die naweek bevestig. Nou het die Sesnasies-komitee, wat die toets uitgevoer het omdat dit in Ierland was, bevestig dat die  B-monster, wat in die VSA getoets is, geen teken van enige verbode middel toon wat op 2016 se lys van verbode middels verskyn nie.

Die Nieu-Seelandse opkikkerbase is stomgeslaan, want dit kom glo net “1 in 10 000 toetse” voor.

Nóg ʼn omstrede voorval, nóg ʼn skok vir Nieu-Seeland.

Dink net watter opslae dit sou gemaak het as dit ʼn Springbok was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kwota ·

Geen manier wat die Bokke van laasjaar opkikkers kon gebruik het nie, miskien slaappille…

Connie ·

Kwota, lekker lag ek nou vir jou kommentaar. Is so iets ja.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.