Nieu-Seelandse polisie arresteer Britse Leeu

Kyle Sinckler (Foto: lionsrugby.com)

Die polisie in Auckland het een van die Britse en Ierse Leeus gearresteer ná ‘n voorval Sondag in die vroeë oggendure ná afloop van die derde toets tussen die Leeus en die All Blacks in dié stad.

Luidens berigte het die toerspan se bestuur bevestig dat die kortgebakerde stut van Engeland, Kyle Sinckler (24), aangekeer is, en verskoning vir sy gedrag gevra het.

Die polisie het die voorval as “gering” bestempel, en geen klag is teen die speler gelê nie.

Hulle het hom bloot by die spanverblyf gaan aflaai.

Die opvlieënde Sinckler, wat in al drie toetse van die bank af gespeel het, was tydens die toer op die veld ook in ʼn paar voorvalle betrokke.

The New Zealand Herald het onder meer berig dat Sinckler reeds die hulp van Harlequins in Londen se kliniese sielkundige, Pieter Kruger, ʼn gewese Suid-Afrikaner, ingeroep het om hom te help om sy humeur te beteuel.

Om te dink die Leeus het geglo hulle is veilig toe die heethoofdige Engelse kaptein Dylan Hartley tuis bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.