Niks keer voerband noorde toe

Demetri Catrakilis (Foto: thestormers.co.za)

Demetri Catrakilis (Foto: thestormers.co.za)

Nog `n dag, nóg `n Suid-Afrikaanse rugbyspeler wat sy heil oorsee gaan soek.

Ek lees vanoggend dat Demetri Catrakilis ná vanjaar se Superrugbyreeks hom by Jake White se Montpellier sal aansluit.

Dis onrusbarend dat spelers nie skroom om selfs in `n Wêreldbekerjaar oorsee te skuif nie, maar kom ons wees realisties, daar is nie `n oplossing daarvoor nie, want soos `n blondekop-losskakel altyd gesê het, ”aan die einde van die dag …”.

Daar gaan nog `n hele paar ander Bokke en (jong) provinsiale spelers oorsee waai, want niemand kan hulle kwalik neem nie.

Catrakilis, wat op St John’s College in Johannesburg op skool was en in die Kaap (Stormers en Westelike Provinsie) en die Baai  (OP Kings) gespeel het, is nie in die Springbokry nie, want Morné Steyn, Handré Pollard, Pat Lambie en Johan Goosen is voor hom in die tou.

Wie kan hom dus verkwalik as hy sy loopbaan verder gaan ontwikkel, al die pad bank toe gaan lag en met die Franse kultuur kennis maak. En boonop kan hy vir die Springbokke oorweeg word as die nood sou druk. Dis `n wen-, wen-, wensituasie.

Kollega Eugene Brink het onlangs `n baie interessante vergelyking getref tussen watter een van Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië die meeste spelers in 2014 aan die buiteland afgestaan het. Die Kiwi’s was voor (30 spelers), Suid-Afrika tweede (25) en Australië derde (24).

Eintlik behoort die SA rugbybase skietgebedjies op te stuur, want toe ek vanoggend na die jongste wisselkoerse kyk, het dit tot my deurgedring dat daar eintlik maar BRA MIN spelers oorsee gaan.

Die Rand was R13,30 teenoor die euro, die Nieu-Seelandse dollar 1,50 en die Australiese dollar 1,40. Veronderstel `n speler word `n kontrak van 300 000 euro aangebied om in Frankryk, Engeland of Ierland te speel, sal hy in randwaarde R3,99 miljoen ontvang, maar slegs 420 000 Australiese dollar en 450 000 Nieu-Seelandse dollar in sy bankrekening kan  stort.

Dis dalk die rede waarom baie van die Nieu-Seelandse veterane, soos Ali Williams, Carl Hayman, Ma’a Nonu en Dan Carter aan die einde van hul loopbane oorsee skuif. Maar daar is tog groot kommer oor jonger All Blacks soos Jerome Kaino wat binnekort weer die hasepad gaan kies. Wallis het ook juis vir Gareth Anscombe (nie dat hy eintlik `n losskakel/heelagter is wat ek as te begaafd beskou nie) vir sy Sesnasiesgroep gekies.

Almal weet dat Nieu-Seeland maar `n klein landjie is met net 4,5 miljoen  inwoners. Een geluk vir Nieu-Seeland is dat hy sy rugbyspens met jong, begaafde spelers van Samoa, Tonga en Fidji kan aanvul, spelers met drome om eendag toetsrugby te speel.

Australië het die grootste probleem, want ná die Wêreldbekertoernooi is James Horwilll, Nick White, Scott Higginbotham, Ben Mowen, Nick Cummins, Kane Douglas en `n rits ander spelers verlore.

Die Aussies pas, net soos Nieu-Seeland, `n beleid toe om nie spelers te kies wat in die buiteland speel nie. Maar as jou spens leegraak?

Dis  hoekom dit so belangrik is om jou eie spelers (en afrigters) te ontwikkel, geleenthede te skep en te beloon.  Maar as daar duisende dokters, verpleegsters, onderwysers en ingenieurs oorsee gaan, wat staan in `n rugbyspeler se pad…?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.