NKZNSU-liga: Sentraal skud voorloper wakker

Sentraal van Dundee het Saterdag die Noord-KwaZulu-Natalse Subunie (NKZNSU) se verdedigende kampioen, Vryheid, wreed wakker geskud in hul wedstryd in die subunie se Eerste Liga.

Nadat Vryheid die vorige kragmeting tussen die twee spanne met 50 punte gewen het, het Sentraal dié slag byna die hele eerste helfte voorgeloop. Hy het in die sesde minuut die voortou geneem en Vryheid kon dit eers in die 40ste minuut afneem toe ʼn doel hom in staat gestel het om rustyd met 17-12 voor te loop.

Rich Verster, die wenspan se hoofafrigter, sê sake het nie heeltemal verloop soos Vryheid in gedagte gehad het nie.

“Sentraal se een vleuel het binne die eerste paar minute ʼn bres in Vryheid se verdediging geslaan, en onaangeraak onder die pale gaan druk.

“Sy losskakel het sy vaardighede goed gebruik om Vryheid in sy eie gebied vas te pen. Sy voorspelers het die druk volgehou, en was genadeloos in die losskrums en maalbewegings

“Selfs al het Sentraal drie strafskoppe verbrou, het hy 90% van die eerste helfte in Vryheid se gebied geboer.”

Verster sê Tinus Scheepers, Devon Aspden en Khumbulani Khoza se drieë, wat Vryheid rustyd laat voorloop het, was almal opportunisties en teen die verloop van die spel in.

Ander ingesteldheid

Hy moes rustyd hard met sy talentvolle span praat, en dié het die tweede helfte met ʼn geheel ander ingesteldheid aangepak.

“Binne die eerste vier minute het Vryheid drie drieë deur Khumbulani Khoza, Pienaar Breytenbach en die sneltrein Sticks Mbatha aangeteken.

“Sentraal het nie tou opgegooi nie, maar die maroenspan het hom mettertyd oorweldig omdat laasgenoemde fikser was.

“Die losskakel Juan Booyens, Mxolisi Nkosi en Anton van der Walt, talle se held, het nog drie driee vir Vryheid gedruk.

“Juan (Boeboe) Booyens het ses van die nege drieë verdoel.”

Verster sê Francois Webb was die beste voorspeler en Chris van Rooyen die beste agterspeler.

Elke aspek oorheers

“Vryheid se eerste span is boaan die punteleer en die tweede span tweede, sodat albei hul halfeindstryde op Cecil Emmetpark sal speel.”

Verster sê die tweedespanafrigter, Jono Begin, het sy span deeglik vir die wedstryd teen Sentraal voorberei, en dié het in die eerste helfte ses drieë teen Sentraal se een gedruk (rustyd 45-5).

“In die tweede helfte het Vryheid elke aspek van die wedstryd oorheers, en nog nege drieë gedruk om met 105-10 te wen, nadat Sentraal reg teen die einde ʼn tweede drie gedruk het.”

Mxolisi Nkosi (vier), Damian Els, Johannes Kruger (drie), Zakes Dlamini, Monwabisi Mtshali (twee), André Ellis (drie) en Chris Pretorius het die wenspan se drieë ingeryg.

Matthew Stride het 14 van die 15 verdoel en Jaco Davel die ander een.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.