Nog ʼn ongeëerde profeet vat die pad

Heyneke Meyer – op pad Frankryk toe. (Foto: Twitter)

ʼn Profeet word nie in sy eie land geëer nie, veral nie as hy ʼn Springbok-rugbyafrigter is nie, en moet dikwels maar ʼn vreemde mantel omhang.

Die aankondiging dat Heyneke Meyer die Franse Top14-klub Stade Français gaan afrig, roep weer die onverkwiklike sage op toe hy op laaghartige wyse uit sy pos as Bokafrigter gedryf is.

Sy “sonde”: Die Bokke het met twee punte in die halfeindstryd teen die uiteindelike wêreldkampioen, die All Blacks, verloor.

ʼn Ongekende histerie in die sosiale media het sake op die spits help dryf, gevoer deur stiksienige beterweters, en aangevuur deur mense wat van beter behoort te geweet het.

Meyer, ordentlike mens wat hy is, kon die onsmaaklikheid nie langer verduur nie – wie sou kon? – en het bedank, en voorlopig van die afrigtingstoneel verdwyn.

Ja, daar was die skoknederlaag teen Japan, maar die rol van die uitgeslape Aussie-afrigter, Eddie Jones, hierin is gerieflikheidshalwe geïgnoreer, ook die feit dat hy deeglik op die hoogte van Suid-Afrikaanse rugby was. Het einste Jones, wat sedertdien berge as afrigter van Engeland versit het, dan nie in 2007 as agterlynafrigter ʼn sleutelrol in die Bokke se Wêreldbekersege gespeel nie?

Meyer is die jongste in ʼn rits Bokafrigters wat hul heil deesdae in die vreemde vind.

Jake White, Wêreldbekerwenner in 2007 en twee keer die Internasionale Rugbyraad (nou Wêreldrugby) se afrigter van die jaar, rig Toyota Verblitz in Japan af nadat hy wondere met Montpellier in Frankryk verrig het; Peter de Villiers rig Zimbabwe af; Allister Coetzee is terug Japan toe.

Wat van die gewese hulpafrigters?

Gary Gold rig Amerika se nasionale span af; Johann van Graan is in Ierland; Alan Solomons in Engeland ná ʼn lang Skotse dienstyd; ʼn haas vergete Hugh Reece-Edwards jare lank al in Japan.

Wat van Gert Smal wat Ierland die Sesnasiesbeker help wen het, maar plaaslik nog nie weer bo provinsiale vlak kon uitstyg nie?

Nes Jones was daar ander buitelanders wat groot bydraes tot vergange Boksuksesse gelewer het, maar kortsigtig laat gaan is: die Australiër Les Kiss as verdedigingsafrigter, en die Skot Richie Gray met sy kundigheid van die afbreekpunte.

Dan is daar oud-Bokke soos Johann Ackermann wat in Engeland afrig nadat hy hier te lande, ondanks sy Superrugbysukses, nie verder as Suid-Afrika A kon vorder nie. Dan van Zyl help rugby in Ierland ontwikkel, en rig die land se o.18-klubspan af. Heini Adams het verlede jaar die Franse Barbarians op toer in Suid-Afrika help brei.

Dink maar aan die gewese SA o.20-afrigter en wêreldkampioen, Dawie Theron, wat ʼn afgeskuifde Japanse klub gaan help het om sy Topliga-status te herwin, en die SA o.19-afrigter (twee keer wêreldkampioen), Eugene Eloff, wat ʼn hopelose Amerikaanse klub binne ʼn enkele seisoen tot nasionale kampioen gevoer het.

Jimmy Stonehouse, wat die SA Presidentspan afgerig het wat in 2013 Wêreldrugby se Tblisi-beker gewen het, is darem nou weer terug by die Pumas op Nelspruit.

Wat kon al hierdie kundigheid nie in die Springbokkamp vermag het nie?

En hoe staan sake by die All Blacks, dubbele wêreldkampioen en jare lank al nommer een op die wêreldranglys?

Waar Suid-Afrika sedert 2004 nou sy vyfde hoofafrigter het (Rassie Erasmus), het Nieu-Seeland in dié tydperk nog net twee gehad.

Graham Henry het die septer van 2004 tot 2011 geswaai. Steve Hansen, sy assistent sedert 2004, het naatloos by hom oorgeneem. ʼn Vorige afrigter, Wayne Smith, het van 2004 tot 2011, en weer van 2015 tot hy verlede jaar met kanker gediagnoseer is, as hulpafrigter hand bygesit.

Hulle het die wêreldbekerseges van 2011 en 2015 om te wys.

Dis mos ʼn voortreflike les in bestendigheid.

Is die skades en skandes wat Suid-Afrikaanse rugby sedert Meyer se uitvaart getref het nie maar bloot die blinde sambok nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hennie ·

Sekere feite word hier op ‘n [skewe] manier voorgehou as die waarheid. Meyer se oordeelsvermoë het hom lank voor die verloor in die halfeind van die WB in die steek gelaat. Sy samestelling van die span was kort duskant belaglik, toe hy versekeie spelers wat nie op vorm was, beseer was, nie die beste in hul posisie was nie, oor hul beste was in die span ingesluit het. Talle het die span op hul reputasie gehaal. Jy wen nie die Durban July met ‘n donkie nie en dis hoe hy die WB aangepak het. Japan het dit bevestig met die eerste wedstryd, maak nie saak wie hulle afgerig het nie. Nou word Meyer as profeet voorgehou ? Dink weer!

H Kotze ·

Hennie, jy klink nou soos Wynand Claassen, verskriklik slim, maar nog nooit julle hande opgesteek om te help nie?
Wynand het Meyer uit sy pos gemoan, toe Allister opgehemel, toe Allister ook uit sy pos bepleit, nou weer vir Rassie opgehemel, wie weet vir hoe lank??? Hyself nog nêrens aangebied om te help nie???

Herman ·

Jy ken jou rugby Hennie. Behalwe al hierdie ooglopende foute het sy gekose spelpatroon van die bal bly weg skop sowel as stampkar rugby ongekende skade aan SA se rugby aangerig.

Kiewiet ·

Ja nee Hennie jy is reg Blou Bul Meyer het gedink met sy Blou Bul span gaan hy die wereld beker wen, daar was te veel Blou Bulle in die span.

KOsie Kramer ·

Danksy Meyer kyk ek nie meer rugby nie, omdat sy eerste Bokspan net uit Blou Bulle en Sharks bestaan het. Profeet???

dejager ·

Heyneke Meyer het meer afrig talent in sy een pinkie as al die polities aangesteldes wat hom opgevolg het saam.

Nico K ·

Ek dink nie Heyneke Meyer was ‘n slegte afrigter nie. Daar word net te veel gemaak van afrigter. Alles wat op die veld gebeur kan nie deur die afrigter bepaal word nie. ‘n Rugbybal spring nie voorspelbaar nie. En dan moet ek vir die skrywer van die artikel daarop wys dat hy 20 afrigters genoem het en vra hoekom hulle nie in die nasionale span is nie. Daar kan nie 20 afrigters die spingbokke afrig nie. En die rede hoekom hulle oorsee gaan en nie plaaslike spanne afrig nie is meer geld.

Flip Pretorius ·

Ja jy kan hoor wie is anti Blou Bul. Maar wat weet n kantlyn kenner in elk geval of hoe se ek Hennie en Herman. Meyer was darm een van die beter afrigters gewees.

Herman ·

Ten minste het ek as “kantlynkenner” voor die wedstryd teen Japan voorspel dat Meyer se span gaan verloor. Miskien weet ek meer van moderne rugby as wat jy wil toegee. Of miskien is dit net omdat ek nie vanuit blinde lojaliteit beoordeel nie, maar van wat ek sien gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.