Nóg ʼn speler uit SA maak buiging vir Duitsers

Die soveelste speler uit Suid-Afrika maak Saterdag sy buiging vir Duitsland wanneer dié span in Nairobi met Kenia kragte meet.

ʼn Flank van die NWU Pukke, Marcel Henn, sal waarskynlik sy eerste kans kry om internasionale rugby van die bank af te speel.

Daar is ses ander Suid-Afrikaners in die groep: Dasch Barber, Jarrid Els, Jaco Otto, Raynor Parkinson, Marcel Coetzee en Michael Poppmeier, die kaptein.

Sebastian Fereirra is beseer en is nie beskikbaar nie.

Kobus Potgieter, die oud-Tukkie wat Duitsland afrig, sê die span het Maandag byeengekom en het Dinsdag na Kenia gevlieg.

“Sover het ons goed gevaar. Ons weet dat Kenia baie sterk by die huis is. Hulle het uitmuntende baldraers en is met hul sewes-spesialiste baie gevaarlik met die bal in die hande.

“[Duitsland] sal ʼn meer gestruktureerde wedstryd moet speel, sy voorspelers goed gebruik, die vaste fasette oorheers en rotsvas moet verdedig as hy suksesvol wil wees.”

Potgieter sê hy glo as Duitsland bogenoemde uitvoer hy kan slaag. Hy het as gevolg van die hitte en lugdruk ook ʼn sterk bank gekies, om nie in die laaste 20 min uit te sak nie.

Harde stryd verwag

♦ Jerome Paarwater, die Westelike Provinsie se hooftalentjagter en hoofafrigter van Kenia, sê hulle is baie bly om Duitsland in Nairobi te ontvang en sien uit na vanjaar se eerste toets.

“[Kenia] het ʼn baie goeie oefenkamp in die Kaap gehad.

“Ons het heelwat nuwe spelers in die groep, wat ek nog moet sien speel.

“Die kragmeting dien ook ter voorbereiding van Kenia se veldtog om die Afrika-beker en ons verwag ʼn harde wedstryd,” het hy aan Pale Toe! gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.