Nóg ʼn Suid-Afrikaner kan eersdaags vir Engeland speel nadat hy onder meer die afgelope naweek ʼn sleutelrol in sy klub, Saracens, se oorwinning oor Wasps in die Engelse Premierliga gespeel het.
The Guardian (Manchester) berig dat Michael Rhodes ná die Engelse toer in Junie in aanmerking kom om vir Engeland te speel; bereid is om die trui met die rooi roos te dra; en dat die afrigter Eddie Jones reeds met hom in verbinding was.
Die blad sê Rhodes se spel teen Wasps het die leemte beklemtoon wat sy afwesigheid onlangs weens beserings gelaat het.
Die 30-jarige Rhodes is in Durban gebore en is ʼn produk van die skool Michaelhouse. Hy het Superrugby vir die Sharks, die Lions en die Stormers gespeel voor hy in 2015 Saracens toe is.
Hy het al ʼn slag vir die Barbarians gespeel, en kan hom aansluit by spelers soos Matt Stevens, Mouritz Botha, Hendre Fourie, Mike Catt, Brad Barritt, Geoff Appleford en Michael Horak wat in Suid-Afrika gebore en in die jongste jare vir Engeland gespeel het.
Ag nee man. Kan julle nie die ouens in huisarres plaas iewers nie? Of verbrand sy paspoort. Daar gaan niks oorbly nie!!
Vir wat moet hy in SA bly? Engeland kan die knaap met liefde vat.