Nóg ʼn taai dwarsklap vir SA rugby

Dit gaan darem baie droewig met jou land op die rugbyveld as jy nie eens een keer op Wêreldrugby se toekenningsaand vereer kan word nie.

Dit wys net weer, die glans het heeltemal van Springbokrugby af (dit sluit alle nasionale spanne in) verdof, want die nalatenskap van onder meer 1995, 1997-’98 en 2007 is reeds lankal op die rak geplaas.

Ja, ek glo die Blitsbokke moes darem minstens een van die benoemdes vir die span van die jaar gewees het en ja, Rosko Specman, wat wel benoem is as sewesspeler van die jaar, kon met die eerbewys weggestap het.

Maar nou ja, soos Joel Stransky bitter gesê het toe Suid-Afrika nie as gasheer vir die Wêreldbekertoernooi van 2023 aangewys is nie, rugby word deur ʼn “old boys club” bedryf en beheer.

Rugby is ʼn “old boys club”, want Sondagaand se beoordelaars in Monte Carlo was John Smit, Richie McCaw, Agustin Pichot, Fabian Galthie, Maggie Alphonsi, Brian O’Driscoll, George Gregan en Clive Woodward. spelers wat deur die meule is, en meestal ná Stransky gespeel het. Dis almal “old boys” wat rugby se belange op die hart dra, net soos toe daar vir die WB-bod gestem is.

Suid-Afrika se naam is skaars twee keer genoem: toe Specman een van die benoemdes as die sewesspeler van die jaar was, maar deur die Amerikaner Perry Baker uitgestof is. En later, toe die oud-Bokkaptein Jean de Villiers die Internasionale Rugbyspelersvereniging (Irpa) se spesiale meriete-eerbewys aan McCaw oorhandig het. Terloops, De Villiers is in 2016 met dié eerbewys vereer.

Dit moet nóg ‘n wekroep vir die Suid-Afrikaanse rugbybase wees ná die teleurstelling van 2023 se Wêreldbekerbod wat aan Frankryk toegeken is.

Rol op die moue, sit skouer aan die wiel en hou politiek uit rugby!

Wêreldrugby se eerbewyse:

Speler van die jaar: Beauden Barrett (Nieu-Seeland).

Vrouespeler van die jaar: Portia Woodman (NS).

Span van die jaar: Nieu-Seeland se vrouespan (Black Ferns) wat vanjaar se WB-toernooi vir vroue in Ierland gewen het.

Afrigter van die jaar: Eddie Jones (Engeland).

Wêreldrugby se Skeidsregterseerbewys: Joy Neville (Ierland).

Drie van die jaar: Joaquin Tuculet (Argentinië).

Deurbraak van die jaar: Rieko Ioane (NS).

Sewesspeler van die jaar (mans): Perry Baker (VSA).

Sewesspeler van die jaar (vroue): Michaela Blyde (NS).

Irpa se spesiale merietebewys: Richie McCaw (NS) en Rachael Burford (Engeland).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Niks te doen met old boys club nie ons rugby is net nie goed genoeg nie, en enige opinie van Stransky is die van n old has been SA rugby kan nie meer op die veld of in die raadsale met die top lande meeding nie.

Callie ·

Kwade dag vir SA. Daar moet egter besef word die politiek is korrup en word in Rugby afgedwing. Eerlik, eintlik kry ek lekker, baie, baie lekker

Francois ·

So hartseer as wat dit vir my is om dit te erken is ek net soos Callie bly dat SA Rugby in die hek geduik het en geen toekennings gewen het nie. Dit is egter ‘n klinkklare bewys van die swak toestand waarin Suid-Afrikaanse rugby verkeer. En nog meer hartseer in die lig van al die SA talent wat vir oorsese spanne speel en uitstekende prestasies behaal, om nie eers te noem wat Johan Ackerman nou met Gloucester uitrig nie.
As die nie ‘n wekroep vir SA Rugby administrateurs is nie dan kan niks ons rugby red en moet die Springbok liefs begrawe word om verdere vernedering te verhoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.