Nog Bokke op pad oorsee?

Piet van Zyl – nou ook op pad (Foto: GB Jordaan)

Dit gaan een van die Rassie Erasmus se grootste hoofpyne wees: om te keer dat al hoe meer Suid-Afrikaanse spelers in die buiteland gaan speel.

Dis niks nuuts nie en ʼn geveg wat Erasmus nie kan wen nie, want hoe gaan hy enige speler keer om miljoene in die buiteland te gaan verdien as hy nie in sy eie land raakgesien word nie?

Erasmus is vroeg Sondagoggend begroet met die nuus dat die Bulls se Springbokskrumskakel Piet van Zyl op pad is na London Irish.

Ja, Van Zyl het onlangs sy “uittrede” aangekondig en toe gesê dat hy op die familieplaas in Vrede sal boer.

Op 28-jarige ouderdom?

Baie kenners sê hy is by Bulls te na gekom, dat hy baie meer moes gespeel het en  dat sy vaardighede nie reg benut is nie.

Nou is hy op pad na London Irish, wie se direkteur van rugby Brendan Venter is.

Asof dit nie genoeg is nie, het die Engelse rugbykoerant, The Rugby Paper, berig dat die Lions se Springbokflank Jaco Kriel hom in 2019 by sy afrigter  Johan Ackermann in Gloucester gaan aansluit.

Ek het ʼn vermoede dat dit vroeër sal wees, straks ná volgende jaar se Superreeks as daar met die Lions ooreengekom kan word.

Kriel, wat van ʼn besering herstel, speel in Japan, maar die deur kan vir hom by Gloucester oopgaan omdat die Walliese flank Ross Moriarty voortaan vir die Newport Dragons gaan speel.

Kriel staan in Suid-Afrika agter in die ry, veral omdat daar bespiegel word dat Erasmus vir Duane Vermeulen na Suid-Afrika wil teruglok.

Vermeulen sal straks flank toe skuif as Warren Whiteley as Bok-agtsteman behou word, met Francois Louw, Siya Kolisi en Pieter-Steph du Toit in die binnebaan.

Onthou ook dat Uzair Cassiem en Oupa Mohoje in die Bok-toerspan na Europa was.

Hoe gaan jy Kriel en Van Zyl (en die hordes ander spelers) in Suid-Afrika hou as hulle nie hier die nodige erkenning kry nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Dis hartseer maar die vraag kom soms by my op – “Kan enige speler met selfrespek en trots bereid wees om deel te wees van Coetzee se geradbraakte Springbok afrigting? “

Johanna Botha ·

Die bestes is weg ….tyd om ander naam vir die spannetjie te oorweeg asb !

Rupert Ashford ·

Jy kan geen speler waarborg dat hy na waarde erkenning sal kry nie. Was maar altyd so rondom bokke en is nou soveel erger met die ekstra rassistiese kriteria op die koop toe.

Philip ·

For sure, South Africa has the players, but not The Team. It’s very, very sad!

Callie ·

Daar is geen manier om die uittog te stuit nie. Solank as jy weet jy is die beste maar 3 kwotas voor jou gaan span kry moet jy iets anders soek. Verder, al die spelers in die bok span, hoe speel jy as jy weet die ou langs jou hoort nie daar nie. Komaan top spelers, dis maklik, dreig om te praat. Julle sal heenkome oorsee kry. Kry een maal in julle lewe guts en praat

Stephen Namibia ·

Ek is lankal nie meer n SA Rugby ondersteuner nie. Ek weier om die woord “Springbok” te gebruik. Dis n belediging vir die pragdier.
Politiek het rugby in SA gesink. Ek is hewig gekant teen gedwonge transformasie, maar het geen beswaar as n speler van kleur op meriete gekies word nie.
Hoe kan n speler soos Kwagga Smith wat in n wedstryd vir SA teen die All Blacks (en aan die verloorkant) as speler van die wedstryd benoem word met n tweede wedsryd vir die Barbarians teen All Blacks weer speler van die wedstryd maar deur die SA keurders ignoreer word?
Daar is baie uitstekende spelers soos Kolizi en ander wat hulle plek verdien, maar as Rudi Page en Chilliboy nog steeds in die mengsel is as gevolg van velkleur alleen verloor ek my sin vir humor.
SA spelers moet hulle heil in Europa en elders gaan soek.

Dries ·

Brian Habana het self vroeer die jaar gesê dis net oor geld dat die ouens oorsee gaan speel nie, dis ook oor politieke inmenging. Die ouens is nie bereid om maar net ‘n ‘welfare portion’ kans te kryom te speel nie, indien jy die beste is dan wil jy speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.