Nog geen woord oor Allister as Bokafrigter

Allister Coetzee – nog geen woord nie. (Foto: YouTube)

Die gesloer gaan voort; die Springbokafrigter, Allister Coetzee, en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) stamp steeds koppe oor sy toekoms; en intussen beleef die Ierse, Skotse en Walliese spanne ’n bloeitydperk in Europa slegs ’n jaar en ’n half voor die Wêreldbekertoernooi in Japan.

Onthou ook gerus dat Eddie Jones reeds raakgevat het met die Engelse, wat nou in die All Blacks se nekke as die wêreld se beste span blaas.

Coetzee het glo Donderdag sy voorlegging gedoen en is geëvalueer, maar daar word nie ’n woord daaroor gerep nie.

Ja, daar moet seker doodseker gemaak word dat daar aan alle vereistes van die Arbeidswet voldoen word, en dat daar genoeg geld in die geldlaai is as hy uitbetaal moet word; maar beteken dit dat ons weer aan die slaap gevang gaan word?

Wat kommerwekkend is, is die oplewing van die Iere, Skotte en Walliesers in die Kampioenebeker- en Uitdaagreeks in Europa.

As Munster sy kragmeting met Castres wen, sal dit die eerste keer sedert 2015-’16 wees dat drie Ierse spanne (Ulster, Leinster en Munster) in die uitspeelrondes van die Kampioenebeker-reeks sal wees.

Leinster het Saterdag ’n oorwinning van 23-14 oor Montpellier op dié se tuisveld behaal. Wie was almal in Montpellier se opdrafspan? Frans Steyn, Jan Serfontein, Nemani Nadolo, Aaron Cruden, Ruan Pienaar, Bismarck du Plessis en Louis Picamoles.

Die Iere is in die verlede deur spelerdiepte gekortwiek, maar dié dae is verby.

Leinster het 37 spelers oor die Kerstydperk in drie wedstryde gebruik en was elke keer aan die wenkant.

In Skotland word daar breed geglimlag, veral oor die invloed wat die gewese Chiefs-afrigter, Dave Rennie, by die Glasgow Warriors het.

Die Warriors het Saterdag op hul tuisveld die Exeter Chiefs (verlede jaar die Engelse se kampioenspan) met 28-21 geklop. Dit het vooraf gesneeu, maar dit het geen uitwerking op die sintetiese speeloppervlak gehad nie, want die Skotte het gesystap, gelyfswaai, gehol en gehol, iets wat hulle voorheen nie met selfvertroue gedoen het nie.

Die Walliese Scarlets het op hul tuisveld Toulon, gelaai met ervare internasionale spelers soos JP Pietersen, Chris Ashton, Francois Trinh-Duc, Alby Mathewson, Marcel van der Merwe, Juandré Kruger, Facunda Isa en Duane Vermeulen, met 30-27 geklop.

En toe moes ons Saterdagmiddag kyk hoeveel foute die Cheetahs en Southern Kings in hul kragmeting in die Pro14-reeks maak.

As dit darem nie ’n tydige wekroep is nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dirkie ·

Reeds donderdag? Rassie koop en stel mense aan left right en centre. Wie is dan die afrigter? Allister gaan bly as hy al Donderdag moes loop. Daar was meer as genoeg tyd om al die admin te doen oor sy pakket. Hy moes net teken en loop en ons moes hoor wie ons nou afrig. Punt

Nico ·

Verledejaar is gesê Coetzee get nie prestasie klosules ens. in sy kontrak nie.
As SARU so onnosel was om nog steeds mens in sulke posisies an te stel moet hy maar die wet van Transvaal nakom, maar met voor behoude. Coetzee dring dat sy kontrak aan hom uit betaal word. Indien hy daarmee volhou moet hy gedwing word om by SARU te bly tot sy kontrak verstryk al doen hy niks. Hy mag nie ENIGE ander werk teen vergoeding doen nie. As hy soos daar beweer word ‘n pos in Japan kan kry en hy wil dit aanvaar moet hy SARU kwytstel van enige finasiële aanspreeklikheid teen hom. Die keuse moet hy nou maak.

Jan ·

Coetzee en SARU is soos die ANC…smeer toe en as jy eers in die hoogste stoel sit kry niemand jou daaruit nie en kan jy maak soos jy lekkerkry

Frans C ·

SARU is ‘n werkgewer en beweeg in die dampkring van die ANC wat sekere doelwitte tov transformasie nastreef.
Die tyd is verby dat daar ‘n Springbokspan en sy afrigterskorps suiwer op meriete gekies gaan word.
Daardie dae is verby en moet ‘n mens jou verwagtinge afskaal want die realiteit is dat ‘n no 6 span nog nooit die wêreldbeker gewen het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.