Nóg hupstootjies vir oorgrensrugbybande

Amerikaanse en Franse klubrugby wil hande vat, en Suid-Amerika kry ʼn eie beroepsklubliga met spanne uit vyf lande wat daaraan sal deelneem.

Dié verwikkelinge ten opsigte van samewerking oor grense heen, volg kort op Argentinië se aankondiging dat hy hoop om aanstaande jaar ʼn vyftiental in die Suid-Afrikaanse Curriebekerreeks in te skryf.

Die Franse Ligue Nationale Rugby (LNR), wat die Top14- en Pro D2-beroepsligas beheer, en die Amerikaanse Senior Rugbyliga (MLR) het aangekondig dat hulle oor “strategiese samewerking” onderhandel.

Daar word bespiegel dat dit onder meer die uitruil van afrigters en spelers kan insluit.

Die Franse kan glo veel oor fiksheid en kondisionering by die Yanks leer, terwyl laasgenoemde op húl beurt mank gaan aan die tegniese kundigheid van die spel.

ʼn Toekomstige tussenvastelandse klubreeks is blykbaar ook nie uitgesluit nie.

♦ Die afskop van die beoogde Suid-Amerikaanse Rugbyliga (LAR) word vir 2020 beplan, met agt spanne uit Argentinië (twee), Brasilië (twee), Chili, Paraguay en Uruguay (twee) wat sal deelneem.

Wêreldrugby (WR) sal die helfte van dié beroepsreeks se begroting finansier, word berig.

Die gedagte is glo om die liga later na die res van Latyns-Amerika uit te brei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Die bokke speel dood hulle gare allmal in die bokke is sleg

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.