Nog Lions kan na Gloucester skuif

Rohan Janse van Rensburg. Foto: GB Jordaan)

Moenie verbaas wees nie as daar nog ʼn paar Lionsspelers in die voetspore van Ruan Ackermann en Jaco Kriel volg om hul loopbane in Gloucester onder die afrigter Johan Ackermann voort te sit nie.

Daar word sedert Januarie al bespiegel dat die senter Rohan Janse van Rensburg en die stut Ruan Dreyer ook hul Lions-spanmaats kan volg.

ʼn Afrigter speel vanselfsprekend ʼn baie groot rol in ʼn speler se ontwikkeling, nie net op nie, maar ook van die veld af. Hy bring daagliks ure saam met hulle deur, vorm hulle en is hul mentor en vaderfiguur.

Dis hoekom hulle hom sal volg as hulle nie na behore in hul eie land na waarde geskat word nie.

Kom ons kyk dus wat  gebeur wanneer die Springbokafrigter,  Rassie Erasmus, sy twee Springbokspanne kies wat op 2 Junie teen Wallis in Washington in die VSA en van 9 Junie af in drie toetse in Suid-Afrika teen Engeland te staan kom.

Dreyer was saam met 21 ander spelers van die Lions en Stormers by die tweede Springbok-beplanningskamp wat van 8 tot 11 April in Vanderbijlpark gehou is. Hy ding om die vaskopposisie mee saam met Frans Malherbe (wat ná sy besering weer begin speel het), Wilco Louw, Thomas du Toit (wat op Erasmus se aandrang van ʼn loskop na ʼn vaskop versool is), Coenie Oosthuizen (wat steeds beseer is) en Vincent Koch (Saracens, wat beslis teruggelok sal word). Dan kan Trevor Nyakane ook nog as vaskopstut ingespan word.

As Dreyer nie gekies word nie, kan enigiemand hom verkwalik as hy sy loopbaan by Gloucester voortsit, veral noudat Erasmus enige speler wat oorsee speel vir die Bokke kan kies?

Gloucester het die dienste van hul All Black-stut John Afoe verloor wat aanstaande seisoen vir Bristol speel en Dreyer is dus die ideale plaasvervanger.

Janse van Rensburg was nie na die beplanningskamp uitgenooi nie en word saam met Frans Steyn, Damian de Allende, André Esterhuizen, Harold Vorster en straks ook Burger Odendaal as binnesenter opgeweeg.

As Janse van Rensburg nie gekies word nie, sal  sy kop na alle waarskynlikheid ook oorsee staan – veral nadat hy reeds sy eerste proesel Europese rugby gekry toe hy van November af ʼn paar weke vir die Sale Sharks gespeel en baie baat daarby gevind het.

Hy kan verder ontwikkel onder David Humphreys, Ackers se adjudant en gewese Ierse losskakel.

♦  Gloucester het met Ackers, in sy eerste seisoen agter die stuur, reeds vir die eindstryd van die Europese Uitdaagbekerreeks gekwalifiseer waar Gloucester en die Cardiff Blues sake sal uitspook. Die twee finaliste dring outomaties tot aanstaande seisoen se Europese Kampioenebekerreeks deur, waaraan die top- Europese klubs deelneem en wat die gans is wat die goue eiers lê.

Gloucester is sesde van die 18 spanne in die Engelse Premierliga en sy Akademiespan (o.18’s) is eerste in die Suidelike afdeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Henry ·

Belowende spelers wat agv die kwota stelsel weinig tot geen kans het om hierdie droewe land te verteenwoordig nie, moet asb nie huiwer om hul heil buite die landsgrense te loop soek en hopelik te vind nie.
Die ophemeling van siele soos Willemse, Kolisi, De Jong, Die Ellende ens in teenstelling met die doodse stilte wanneer Kriel, Esterhuyse, Venter, Vorster ens ens ter sprake behoort te kom, is oorverdowend en andersyds belaglik.
La’ waai manne en steur julle asb nie aan die SARU en hul ondersteuners wat perdekuttels as vye aan julle probeer smous nie.

Lol ·

Gaan Dreyer en van Rensburg in Gloucester posisies omruil?Dreyer skrum soos ‘n reier. Van Rensburg dik soos ‘n stut.

bloues ·

Pieter en dan word gevra hoekom so baie mense die All Blacks ondersteun. Antwoord is maklik, want dit is die 15 beste spelers in die land. Ons bokkies speel met 3de bestes van die land. Pieter stef op flank, Ross Gronje op skrukskakel en so kan ons aangaan. Nee wat .

Callie ·

En Rassie verkoop sy siel vir n pot lensiesop. Sy eie woorde, hy sal kwotas haal. Hoe kan jy az afrigter staan en met integriteit bou as jy spelers in hul oe kyk en lieg. Kwotas kies en n beter speler mis. Sies my ou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.