Nog ʼn Du’Plessis tree na vore

Du’Plessis Kirifi is deur die Hurricanes vir die 2019-Superrugby-seisoen gekontrakteer. (Foto: Twitter @damolamo678)

Al ooit gehoor van Du’Plessis Kirifi?

Dié 21-jarige losvoorspeler, wat na die oud-Springbokkaptein Morné du Plessis vernoem is, is deur die Hurricanes betrek vir aanstaande jaar se Superrugby-reeks.

Kirifi is van Samoaanse afkoms en sy pa, Jack, het meer as 100 wedstryde vir die Ponsonby-klub in Auckland, Nieu-Seeland gespeel.

Dis effe vreemd dat die jong Kirifi na Du Plessis vernoem is, want Morné het nooit in een van sy 22 toetse in Nieu-Seeland gespeel nie. Du Plessis het aan die einde van 1980 uitgetree voordat die Springbokke in 1981 deur Nieu-Seeland getoer het.

Maar die blywende indruk wat hy as kaptein van die Springbokspan in 1976 teen die All Blacks-toerspan van Andy Leslie gemaak het (en as gewilde bestuurder van die Springbokke se Wêreldbeker-wenspan van 1995), het Kirifi oortuig om sy seun Du’Plessis na die oud-Bokkaptein te vernoem.

♦ Dis net nóg ʼn voorbeeld oor hoe gaande die Nieu-Seelanders oor rugby is en dat tradisie nooit sal vergaan nie.

Dink net hieraan: Watter Suid-Afrikaner het sy kind al ooit Ma’a of Beauden Kruger gedoop?

Klubrugby is steeds die slagaar, die grondslag én boustene van All Blacks-rugby.

Die Ponsonby-klub, wat 144 jaar oud is, het jare gelede deur Suid-Afrika getoer. Ek onthou hoe ek as ʼn kannetjie by een van hul wedstryde op Loftus Versfeld teen Noord-Transvaal was en watter indruk hulle gemaak het toe die spelers vir ure op die veld gestaan het, handtekeninge uitgedeel en met almal gesels het, al het ons met die rooitaal gesukkel.

Die klub het ʼn ryke tradisie en het reeds ʼn rekordgetal van 45 All Blacks opgelewer. Die jongste is Rieko Ioane.

Daar hang juis foto’s van die jong Ioane in die klubhuis (daar is meer as 850 ander versamelstukke, trofeë, truie en baadjies) toe hy as agt-, nege- en tienjarige kannetjie vir die klub gespeel het.

Dis ook hier waar Sandra Ioane, die ma van Rieko, een van die Britse- en Ierse Leeu-toerspan se ondersteuners, Alex Edwards, verlede jaar ontmoet het en na haar huis genooi en slaapplek aan hom vir ʼn paar dae gegee het. Dít terwyl een van die Ioane-broers hul kamer moes opoffer toe Edwards se besprekings deurmekaar geraak het.

Sout van die aarde.

Terloops, Sandra het vir Nieu-Seeland se vrouespan gespeel en haar man, Eddie, het in die 1991-Wêreldbeker-toernooi  vir Samoa uitgedraf. Rieko se broer Akira is ook ʼn All Blacks-speler en het ook vir Nieu-Seeland se sewesspan gespeel.

♦ Ek het ʼn paar jaar gelede die voorreg gehad om Ponsonby in Western Springs te besoek. Dit het jou, soos die Ellispark-rugbymuseum, hoendervel gegee.

Jy ruik rugby en tradisie.

Wanneer jy by die klub instap, tref die trofeekas met die Gallaher-skild (as Ponsonby dit gewen het) jou oog. Dit is Auckland se belangrikste trofee wat Ponsonby sedert 1922 reeds 33 keer gewen het.

Van Ponsonby se grootste helde is Dave Gallaher (die klub se eerste All Blacks-speler), George Nicholson (wat tussen 1903 en 1907 vir die All Blacks gespeel het), Bob Scott (wat in 1949 saam met die All Blacks in Suid-Afrika was) en Bryan Williams (wat in die All Blacks-toerspanne in 1970 en 1976 deur Suid-Afrika was). En van almal is daar aandenkings teen die mure.

En wat gebeur hier in Suid-Afrika met klubrugby?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marco polo ·

Die antwoord op daai laaste vraag is transformasie. Wonder wanneer gaan die skares, wat geld betaal om na rugby te kyk, getransformeer word.

Piet ·

Die skares sal vanself transformeer soos minder wittes begin wedstryde bywoon, so ook sal die stadiums begin leeg loop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.