Nog `n honderdtal ‘nie goed vir klubrugby’

pretoriapolisieDis te betwyfel of die honderdtal wat Pretoria Polisie Saterdag op die rugbyveld in die Noorderbonde se Assupolreeks behaal het goed vir klubrugby is.

Só sê Johan Kluyts, `n woordvoerder van Polisie, wat Harlequins 122-7 geklop het.

“Polisie het gedoen wat hy moes doen om vir die eindstryd in aanmerking te kom. Die 18 drieë wat hy gedruk het en waarvan 16 verdoel is, vertel die storie.

“Ek twyfel egter of wat hier gebeur het enigsins goed vir klubrugby is,” het Kluyts aan Pale Toe! gesê.

“Wat indrukwekkend was, is Nico Luus se geesdrif en hoe hy sy spelers aanspoor.”

Polisie moes ver genoeg – met minstens 97 punte – wen om `n beter punteverskil as Rustenburg Impala op te bou as hy die eindstryd wou haal.

Kluyts sê Quins het regtig hard probeer en self met `n paar goeie aanvalle vorendag gekom, maar die afronding het ontbreek.

“Hulle het eenvoudig in `n paar posisies nie die nodige talent nie, en `n mens kan net hoop hulle herstel ná die afgelope twee naweke se groot tellings teen hulle.”

Hy waarsku Polisie sal `n groot fout begaan as hy homself aan Saterdag se wedstryd meet. Die Tukkies wag komende Saterdag en dis `n geheel en al ander storie.”

harlequins♦ Ben Eybers, die voorsitter van Quins, sê sy span is deur beserings gery, maar het geen verskoning vir sy “sagte” rugby nie.

♦ Wat die onderouderdomspanne betref, het Quins se o.20s vir Polisie 91-0 geklop, en die o.21s het `n taai wedstryd 21-17 gewen.

Harlequins se o.21s het vier drieë teen Polisie se drie gedruk. Hernus Peters, Jacques Links, Boitumelo Mokoditoa en Nick Craze het Quins s’n aangeteken.

Mike Oelofse, die o.21-afrigter sê soos die eindtelling aandui, was daar was min tussen die spanne te kies.

“Polisie het die oorhand in die skrums gehad, maar Quins was gevaarlik op die teenaanval.

“Met die wedstryd op 17 elk in die weegskaal, het Quins in die laaste beweging van die wedstryd met `n puik drie vorendag gekom toe hul buitesenter, Craze, deurgebreek en amper die lengte van die veld gehardloop het vir die wendrie.”

Tien verskillende spelers het agter die doellyn gaan kuier vir die o.20s se 15 drieë: Daniel de Kock (2), Jacobus Botha (2), Matthew Mpofu (2), Sino Jobela (2), Ashton Swartz, Chris Venter, Henco Jansen van Rensburg, Ruben Hohls, Shane Webb, Tiaan Vledder en Vian de Beer.

Andrew Berry, Quins se o.20-afrigter, sê die grootste positiewe aspek was die kombinasie tussen die voor- en agterspelers en hoe die jong manne ruimte op die aanval met goeie kommunikasie van die spelers aan beide kante van die baldraer benut het.

tukkies♦ Die Tukkies (Fezelas) het 25-15 teen Centurion gewen en vergoed vir verlede jaar se eindstryd toe Centurion die studente in die doodsnikke geklop het.

Morris Gilbert, die spanbestuurder van Tukkies, sê die Tukkies het goed kopgehou toe die span weens drie geel kaarte 30 minute lank met 14 spelers moes klaarkom.

Die vleuel Damian van Wyk, wat twee drieë gedruk het, was die studente se beste speler.

Marcel Steyn Scholtz het `n drie vir die wenspan gedruk en `n skepdoel behaal, en Abri Reynolds twee doelskoppe en `n strafdoel.

noordelike - logo♦ Dit lyk of Pietersburg Noordelikes vanjaar goed op dreef is. Ná sy goeie vertonings teen TUT Vikings en Middelburg het hy Lonmin, die Luiperds se Neser A-kampioen, Saterdag 70-0 in die halfeindstryd van die Assupolreeks se B-afdeling verslaan.

Freek Romijn, die hoofafrigter van Noordelikes, sê dit was eenvoudig een van daardie dae waar alles vir sy span reg geloop het.

“Die samespel tussen die voor- en agerterspelers was briljant.

“JP Swartz, Juan Jacobs en Shane Minnie het voor vir Noordelikes uitgeblink, terwyl Wouter de Villiers, Thyman Jonkbloed en Alwyn Olivier agter baie goed gespeel het.”

Minne, Juan Jacobs, Tiny Matemole, Jonkbloed (2), Olivier, De Viliers (3) , Sias van Wyk, Koning Janse van Rensburg (2) het Noordelikes se 12 drieë gedruk.

Olivier het vyf daarvan verdoel.

TUT♦ Neels van Heerden, die voorsitter van die TUT Vikings, laat weet die klub se o.21-span speel komende Saterdag in die eindstryd van Groep A op Loftus Versfeld.

Die span het groot oorwinnings teen Pietersburg Noordelikes (42-14) en Middelburg (40-0) behaal. Ferro’s o.21 (Witbank) het aan Saterdag se halfeindstryd teen TUT onttrek omdat hulle nie `n volledigespan in die veld kon stoot nie.

“Seer sekerlik is rugby-ontwikkeling nie wat dit moet wees nie as drie van die grootste dorpe in die Noorde nie mededingende o.21-spanne het nie,” sê Van Heerden.

Ander uitslae –

Eerste spanne: UJ 34, Dragons 14.

Tweede spanne: Dragons 59, UJ 0; Polisie 37, Harlequins 7; Tukkies 13, Centurion 5; Ferro’s 37, Noordelikes 36.

Derde spanne: Dragons 53, UJ 0; Polisie 31, Harlequins 27; Tukkies 55, Centurion 0.

Onder 21-spanne: UJ 42, Dragons 7.

Onder 20-spanne: UJ 17, Dragons 3.

Opgesomde puntelere –

Groep A1

Eerste spanne: Polisie 17 (punteverskil +168), Impala 17 (punteverskil +150), UJ 10, Dragons 5, Harlequins 0.

Tweede spanne: Dragons 20, Polisie 11, Impala 9, UJ 9, Harlequins 1.

Derde spanne: Dragons 16 (punteverskil +81), Polisie 16 (punteverskil +32), UJ 11, Harlequins 6, Impala 2.

Onder 21-spanne: UJ 19, Dragons 15, Impala 8, Polisie 8, Harlequins 4.

Onder 20-spanne: UJ 19, Harlequins 15, Dragons 12, Polisie 5, Impala 0.

Groep A2

Eerste spanne: Tukkies 13, Centurion 9, Naka Bulle 7, Tuine 0.

Tweede spanne: Tukkies 13, Naka Bulle 9, Centurion 5, Tuine 0.

Derde spanne: Tukkies 14, Naka Bulle 10, Centurion 5, Tuine 0.

Onder 21-spanne: Tukkies 14, Naka Bulle 9, Tuine 6, Centurion 0.

Onder 20-spanne: Tuine 10, Naka Bulle 9, Centurion 9, Tukkies 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.