Nóg ʼn huidige Bok en glo ook ʼn Superafrigter oorsee

Francois Venter op pad Worcester Warriors toe.
(Foto: fscheetahs)

Die wisselkoers-geelwortel het nog ʼn slag teen Suid-Afrikaanse rugby geslaan.

Kort na die Cheetahsafrigter Rory Duncan se aankondiging dat hy aan die einde van die seisoen as hoofafrigter by die Worcester Warriors oorneem, het sy kaptein van die Pro14-span Donderdag bekend gemaak dat ook hý ná die Engelse klub op pad is.

Die Springboksenter Francois Venter sal na die Pro14-reeks by die Premierliga-klub aansluit. Hy sê hy sien baie uit na die uitdaging en om steeds onder Duncan se afrigting te kan speel.

Alan Solomons, wat assistentafrigter was toe Nick Mallett die Bokke tot die laaste 16 van hul 17 opeenvolgende oorwinnings in die laat 90’s gebrei het, is die direkteur van afrigting by die Warriors.

Robbie Fleck – glo ook op pad Brittanje toe (Foto: nzrugby.co.za)

♦  En dan is daar die rokie waarvan die bestaan van ʼn vuurtjie deur WP Rugby ontken word: dat die Stormers se afrigter Robbie Fleck op pad is na die Ospreys, die Walliese span wat in die Pro14-reeks, en ook die Anglo Welsh- en die uitsoek-Europese Kampioenebeker-reeks speel.

Die twee webtuistes Wales Online en BBC Sport het albei Donderdag beweer dat die Ospreys met Fleck oor die skuif onderhandel. Hy sal glo die hoofafrigter wees as die onderhandelinge slaag.

Die WP hou egter vol dat Fleck ʼn kontrak tot einde 2019 het – vir wat dit werd is.

Gedagtig aan die deurmekaarspul by WP Rugby en die maklike uitkoop van kontrakte van spelers en afrigters, en veral die geldkrag van die euro teenoor die rand, sal Fleck seker kan padgee as die berigte waar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Herman Goosen ·

Wyser besluit as Rassie wat terugkom om onder swak bestuur te probeer afrig. Francois was altyd gedoem om as spaarwiel te dien en hy mors sy tyd in Suid Afrika.

Adam ·

Fleck kan maar gaan Nuwe idees is al wat WP/Stormers uit die groef gaan haal

Aitog ·

As Fleck waai, kan WP gerus vir Jimmy Stonehouse nader trek……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.