Nog ʼn huidige Bok sluit by Ackers se Gloucester aan

Jaco Kriel – volg die Ackermanns Gloucester toe. (Foto GB Jordaan).

Nóg een van Suid-Afrika se beste spelers gaan sy heil oorsee soek en sal die beskikbare gehaltetalent in Suid-Afrika verder uitdun.

Die Springbokflank en die man wat die Lions in verlede jaar se Superrugby-eindstryd aangevoer het, Jaco Kriel, sal nie weer in die Lionstrui gesien word nie.

Hy het verlede maand ʼn tweede skoueroperasie ondergaan nadat hy in September in ʼn toets teen die Wallabies beseer is, en sal nie weer in Suid-Afrika speel voordat hy by Johan Ackermann se Gloucester inval nie.

Kriel, wat hoofsaaklik as nommer ses-flank gespeel het, maar benewens hierdie posisie se balsteelfunksie ook baie, baie meter vir die Lions met sy kragtige lopies gewen het, het in 11 toetse gespeel en die Lions in 71 wedstryde verteenwoordig. Hy het ook 44 wedstryde vir die Goue Leeus en die Leeus-vyftiental asook vyf keer vir die Kubota Spears in Japan gespeel.

Kriel is verlede jaar in September ná ʼn skouerbesering geopereer. Daar is verwag dat hy ná ses maande weer sou kon speel, maar in Maart is beslis dat die operasie onsuksesvol was.

Hy is toe weer, in Maart, geopereer – wat beteken het dat hy ʼn verdere ses maande moes aflê – ʼn hele jaar dus sedert sy besering teen Australië.

Kriel het reeds met Gloucester se afrigtings- en mediese personeel gepraat en hulle verwag hy sal vir die aanvang van hul seisoen reg wees.

Kriel sluit hom by sy ou Lionsspanmaat, Ruan Ackermann aan.

Gloucester is vanjaar, in die eerste jaar met Johan Ackerman as afrigter, in die eindstryd van die Europese Uitdaagbeker. Hulle speel op 11 Mei in die San Mamés-stadion in Bilbao, Spanje, in die eindstryd teen die Cardiff Blues.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans C ·

‘n Mens kan verwag dat soos spelers ouer word,steeds meer spelers oorsee sal gaan om hul inkomste aan te vul.Wat egter in Kriel geval pla is dat dit juis die Lions se voormalige
afrigter Johan Ackerman se span is wat die trekpleister blyk te wees.
As ‘n mens nou in samesweringsteorieë glo, kan dit wees dat Ackermann iets oorsee
probeer regkry wat hy nie met die Lions kon nie,nl om ‘n groot internasionale kompetisie
te wen,al is dit ook ten koste van sy ou span?

Henry ·

Agge nee wat Frans C
Ek vermoed dat Ackers, sy seun en Kriel hulself in Gloucester bevind, omdat hulle nie bereid is om langer onder hierdie droewe land se regime voort te ploeter en op maat van SARU se kwota-orkes te bokspring nie.

Aitog ·

Gaan ou seun. Gryp die geleentheid en vat die geld. Daar sal jy hopelik na waarde geskat word.

Anoniem ·

Ons kan nie die kwota stelsel vir alles blameer nie. Ja dit verhoed dat ons die beste spanne kan kies, maar daar is veel meer redes waarom spelers oorsee gaan speel. Geld speel vir seker die grootste rol. Sommiges gaan speel die laaste 5 jaar van hulle loopbane oorsee om die pensioen koffertjies aan te vul wanneer hul loopbane in SA begin afdraend loop, terwyl ander weens gereelde beserings die “sagter” opsie verkies om hulle loopbane te verleng. Daar is maar ‘n handjievol spelers wat oorsee speel wat die Springbok span sal haal. Ons kan niemand kwalik neem hieroor nie, elkeen moet vir homself besluit wat die beste is om sy pensioengeld oor +-10-12 jaar te verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.