Nog ’n lessie te leer vir Suid-Afrikaanse rugbybase

Daar was ’n hele paar roerende oomblikke voor die naweek se Superrugbywedstryde in Nieu-Seeland en Australië toe daar hulde gebring is aan die duisende Anzac-soldate, die gesamentlike Nieu-Seelandse en Australiese korps, wat hul lewens in die Eerste Wêreldoorlog en ander oorloë, opgeoffer het.

Ja, ek glo baie Suid-Afrikaanse ondersteuners het in daardie eerste paar minute van die uitsending gaan koffie maak en net met een oor geluister toe die ode afgelees en die reveille gespeel is.

Kom ons plaas dit in perspektief. In die Eerste Wêreldoorlog het daar 13 All Blacks en 150 eersterangse spelers omgekom … meer as die totale aantal Suid-Afrikaners wat in die Superrugbyreeks speel.

Die All Blacks het juis in 1914 deur Australië getoer toe die oorlog uitgebreek het. Met hul aankoms tuis, het die span besluit om oorlog toe te gaan.

In die Tweede Wêreldoorlog het 11 All Blacks met hul lewens geboet, waarvan ʼn hele paar in 1937 teen die Bokke gespeel het.

Die All Black-vleuel Donald Cobden was een van hulle. Volgens stuff.co.nz het hy in 1937 sy buiging in die eerste toets teen die Springbokke op Athletic Park in Wellington gemaak, maar het hy die veld weens ʼn besering ná ʼn gevaarlike duikslag verlaat.

Hy is met ʼn draagbaar afgedra en het darem sό herstel dat hy kon gaan stort en met die hulp van ʼn kierie sy spanmaats ná die oorwinning ʼn kloppie op die skouers gaan gee het.

Een van die keurders was briesend en het Cobden as ʼn lafaard uitgekryt … en hy het nooit weer vir die All Blacks gespeel het nie.

Cobden het daar en dan besluit om na Engeland te verhuis en het vier keer vir die Barbarians in 1938 gespeel voordat hy hom by die Britse magte aangesluit het. Sy Spitfire is in 1940 oor die see afgeskiet en hy het verdrink toe hy in sy valskerm vasgestrengel geraak het.

Twee ander All Blacks, Cyril Pepper en Archie Wesney, het in 1941 in dieselfde veldslag by Sidi Rezegh in Noord-Afrika gesterf. Die veldslag het plaasgevind net twee weke nadat die “All Blacks” die “Springbokke” in ʼn woestynwedstryd geklop het.

Bill Carson, een van net sewe Kiwi’s wat vir Nieu-Seeland se rugby- én krieketspanne gekies is (maar nooit vir hulle gespeel het nie), het dieselfde veldslag oorleef, maar hy is aan die einde van die oorlog op die skip op pad huis toe aan geelsug oorlede.

Dis mooi en belangrik dat daar op dié manier hulde gebring word aan oudspelers, en hopelik is dit ook ʼn les vir die Suid-Afrikaanse rugbybase.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Geurt ·

Mnr Kruger, watter les wil jy oordra aan SA Rugby? Die vertelling is van manne wat All Black rugby verteenwoordig het wat gesterf het oor sekere tydperk. Daar was definitief Ozzies en SA manne en baie ander nasies wat tydens die tyd gesterf het. Wil jy vra dat ons die oorloë moet onthou of Springbokke van daardie tyd moet onthou?

Joe Hall ·

Ek sal ook graag wil weet watse les daar oorgedra moet word.
As voorbeeld.
Teen die agtergrond van die kwotastelsel wat so ‘n integrale deel van SARU se beleid is…sal voormalige MK lede wat rugby gedurende die “straggil” jare gespeel het, ook eersdaags vereer word?
Ou bloues hoef nie hierdie ene te antwoord nie want soos Geurt, het niemand hom gevra vir ‘n antwoord nie.
Maaindjoe, dat hierdie poging Piet Kruger se snippermandjie sal vryspring, word ook betwyfel.
hehehe

bloues ·

Geurt. Ai toggie, ja net Ai Toggie is al hoe ek jou kan antwoord op jou insetsel

Pieter Kruger ·

Die strekking van die berig was dat afgestorwe spelers in Nieu-Seeland as helde onthou word, omdstrede of te nie, soos Keith Murdoch … daar is ook hulde aan al hul ander spelers gebring … en in Suid-Afrika? Poens Prinsloo, Martin van Rensburg, Johnny Buchler? Dis die les wat geleer behoort te word.
Winnie Madikizela-Mandela … ja voor ‘n wedstryd, maar aan oud-Bokke, ook die wat in Wêreldoorloë gesterf het?

Joe Hall ·

Ge-oordeel aan die onlangse huldeblyk aan oorle’ Winnie wie sover my kennis strek, nooit naby ‘n rugbyveld was nie, was die hele ge-doe tydens die Sharks/Stormpies wedstryd, ‘n uit en uit politieke vertoning wat nie op ‘n sportveld tuishoort nie.
Mynsinsiens behoort eerbetonings op die rugbyveld beperk te wees tot huldeblyke aan gestorwe rugbyspelers wat besonderse bydraes gelewer het om die sport te bevorder.
Hou politiek en politici van die veld af!!!
Wat’s volgende? Ek sal die antwoorde liewers aan die verbeelding oorlaat, in die hoop dat hierdie poging ook die snippermandjie sal pypkan, saaidstep of wat ookal.

Lol ·

Stem saam met Pieter. Ons huidige regime is kieskeurig oor watter tradisies hul wil behou. Gaan kyk wat gaan aan by eens trotse tradisie vaste skole soos Queens College en Dale College in die Oos-Kaap dan verstaan ons SARU se beleid.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.