Nóg ’n SA rugbyspeler na Europa

Nic Groom in aksie vir die Lions. Foto: ANA.

Edinburgh het hul rugbyspan versterk met die nuus dat die Suid-Afrikaanse skrumskakel, Nic Groom, deel van hul groep vir die komende seisoen sal wees.

Die 29-jarige Groom het vanjaar Superrugby vir die Lions gespeel en sal hope ondervinding saam met hom na Skotland neem. Hy het onder meer ook in meer as 100 wedstryde vir die Stormers en Northampton Saints die afgelope paar seisoene gespeel.

Groom was een van die sleutelfigure in die Lions se 2019-Superrugby-veldtog en het in 13 van die span se 16 wedstryde gespeel.

“Ek is opgewonde om deel van die Edinburgh-kultuur te word. Ek het ’n ogie op hul vordering vanuit Suid-Afrika gehou en dit is beslis ’n klub wat met elke seisoen verbeter. Ek kan nie wag om ’n rol in hul verdere ontwikkeling te speel nie,” het Groom gesê.

“My tyd by die Lions was ongelooflik en ek het die geleentheid gehad om met fantastiese afrigters en spelers te werk. Ek is baie dankbaar vir die kanse wat hulle my gegee het,” sê hy.

“Van wat ek gehoor het, is Edinburgh ’n lekker plek om te bly en jou rugby te speel. My gesin kan nie wag vir die avontuur wat op hulle wag nie.”

Edinburgh se afrigter, Richard Cockerill, het op sy beurt gesê dat Groom ’n intelligente speler is wat gereeld sterk in die Superrugby- en Engelse Premierreekse vertoon het.

“Sy ondervinding in die nommernegetrui is beslis van groot waarde, maar sy vermoë om geleenthede raak te sien en verdedigers op die agtervoet te betrap sal sorg dat ons span ’n splinternuwe baadjie aantrek,” het Cockerill gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ai ·

Wel as ek so na jul spens kyk dink ek dit is n helse verlies…Maar moet nie worry hul sal nog n kollisie in sy plek stop…

Judge Dredd ·

Daar was ‘n tyd toe SA met NZ baklei het om die 1st plek.
Daar was ‘n tyd to SA baklei het om in die top 3 spanne te wees.
Deesdae baklei SA ons net om in die top 5 te wees.
Toekomstig gaan dit ‘n stryd wees om in die top 10 te bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.