Nóg ʼn Springbok-driekwart van 1965 sterf

Wynand Mans (links), saam met die Springbok-broers Robert en Charlie Cockerell, wat eweneens vir Noordelikes gespeel het (Foto: Facebook)

Nóg ʼn Springbok-driekwart van 1965 het vier dae ná sy spanmaat Gertjie Brynard gesterf.

Wynand Mans (76), wat senter in twee toetse gespeel het, is Donderdag oorlede. Hy het in Hermanus gewoon.

Albei toetse was op die teleurstellend kort toer na Ierland en Skotland toe Suid-Afrika geeneen van die vyf wedstryde kon wen nie.

Mans het ʼn drie teen Ierland gedruk, en met ʼn doelskop teen Skotland geslaag.

Hy is ook later die jaar saam met die Bokke na Australië en Nieu-Seeland, maar moes in die toetse plek maak vir Mannetjies Roux wat die kort toer misgeloop het.

Die vleuel (12 keer) en senter (sewe) het die Boktrui naas sy toetse in 17 wedstryde gedra en altesame 123 punte in die Groen-en-goud behaal – met 14 drieë, 30 doelskoppe, ses strafdoele en ʼn skepdoel.

In Australië het hy 23 punte (twee drieë, sewe doelskoppe en ʼn strafdoel) in die wedstryd teen Wes-Australië en 21 (twee drieë, vier doelskoppe en drie strafdoele) teen Victoria behaal.

Hy het vir die Kaapse klub Noordelikes gespeel en die Westelike Provinsie van 1962 tot 1967 verteenwoordig, onder meer in die epiese sege van 16-9 oor Noord-Transvaal in 1964.

Mans het ná sy speeldae die fluitjie opgeneem en gereeld wedstryde op provinsiale vlak hanteer.

Hy het hom in die jare tagtig sterk daarvoor beywer dat rugby twee skeidsregters op die veld moet hê, iets wat onlangs weer deur die Engelse afrigter Eddie Jones bepleit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.