Nog `n verslag vir die rak

blitsbokke-logoGeluk speel `n baie groot rol in rugby, trouens in alle sportsoorte.

Dis hoekom dit vir my vreemd is dat die oud-Springbokkaptein Francois Pienaar saam met `n paneel van drie ander lede, die gewese nasionale kolwer Adam Bacher, die sportfisioloog Ross Tucker en `n direksielid van Krieket Suid-Afrika (KSA), Dawn Mokhobo, aangestel is om ondersoek in te stel waarom die Proteas nie groot toernooie kan wen nie, met ander woorde, hoekom word daar gesmoor.

Nog `n verslag om op die rak stof te vergader, sou ek sê, want wat gaan in die verslag staan wat ons nie weet nie?

Gaan hulle die probleme van bo af oplos, gaan hulle die oortuiging aan die dag lê om KSA se uitvoerende hoof, Haroon Lorgat, te betrek oor sy inmengery in spankeuses (al ontken hy dit steeds, hoewel almal dit weet) en sal hulle krieket se tranformasie-bloudruk ontleed en uitmekaar trek?

Ek het baie agting vir die Blitsbokke, maar is hulle nie ook `n voorbeeld van `n span wat gereeld oor die laaste hekkie struikel nie?

Nee, die Blitsbokke, Fidji en Nieu-Seeland is al drie ewe sterk en kan op enige dag enige span klop.

Al wat ontbreek, is `n bietjie geluk, om daardie laaste aangee vas te hou, om nie `n laaste duikslag te mis nie, om nie in `n eenogige skeidsregter se swart boekie te beland nie.

Die All Blacks het die Blitsbokke in die halfeindronde van die naweek se Hongkongse sewestoernooi in die laaste minuut van bykomende speeltyd geklop.

Het die Blitsbokke gesmoor?

Nee, hulle kon netsowel gewen het, as die geluk aan hul kant was.

Dink maar terug aan die Wêreldbekertoernooi  van 1995 toe Joel Stranksy die wenskepdoel in bykomende speeltyd teen die All Blacks op Ellispark oorgeklits het om die Webb Ellis-trofee aan die Bokke te besorg.

Het die All Blacks gesmoor?

Nee, die geluk was daai dag aan die Bokke se kant. Wat wel waar is, is dat jare lank neem om van die sielkundige letsels af te skud. Jy word in elke wedstryd daaraan herinner, jy word in elke toernooi daaroor gespot. Dit het immers 16 jaar geduur voor die All Blacks dié juk kon afskud, al is hulle die wêreld se beste span.

Sondagaand het dit ook gebeur toe Jordan Spieth die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi weggesmyt het en op `n skinkbord aan Danny Willett besorg het. Het Spieth gesmoor?

Voor hom het Arnold Palmer, Greg Norman, Jean van der Velde, Adam Scott en Rory McIlroy dit ook gedioen. Is hulle smoorders?

Nee, geluk speel `n baie groot rol, maar dan moes die vis nie van die kop af begin vrot het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Ek stem saam. SA het die halfeindrondte in dit T20 krieketwêreldbeker met ‘n paar balle oor verloor. Dit is darem baie amper. Wes Indië het die eindstryd net so naelskraap gewen. So goed was hulle nie. SA verloor die halfeindstryd in die rugby wêreld beker met 2 punte teen Nieu Zeeland. En al die mense vertel hoe pateties is die Springbokke. Dit irriteer my verskriklik as mense sê ja maar verloor is verloor. Dit is een ses wat net 2 treë te kort was, toe word die ou uitgevang. En nou is hulle pateties!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.