Nog ʼn WB-wedstryd gekanselleer

Die amptelike wedstrydbal vir die Wêreldbeker-toernooi. Foto: Japan News-Yomiuri photo

Wêreldrugby en die reëlingskomitee van die Wêreldbeker-toernooi in Japan het besluit om die wedstryd tussen Namibië en Kanada om veiligheidsredes te kanselleer.

Dié wedstryd sou om 05:15 (Suid-Afrikaanse tyd) in die Kamaisji-stadion plaasgevind het. Volgens die komitee was tifoon Hagibis een van die kragtigste storms wat Japan in dekades getref het en is Kamaisji in ’n baie bergagtige omgewing geleë. Daar het grondverskuiwings in die omgewing van die stadion en langs toegangspaaie voorgekom.

“Ons het die afgelope 24 uur noue kontak gehad met verteenwoordigers van die stad en die stadion en het die spanne in kennis gestel. Ons het die moeilike maar regte besluit geneem om die wedstryd te kanselleer na aanleiding van die inligting wat ons van die plaaslike owerhede ontvang het,” het Alan Gilpin, toernooidirekteur van die Wêreldbeker-toernooi in Japan, gesê. “Ons harte gaan uit na die spanne en ook hul ondersteuners, maar ook aan die mense van Kamaisji.”

Die reëlingskomitee het kort daarna aangekondig dat die wedstryde tussen die VSA en Tonga en Wallis en Uruguay voortgaan. Die VSA en Tonga speel om 07:45 (SA tyd) in die Hanazono-stadion terwyl Wallis en Uruguay om 10:15 (SA tyd) in die Kumamoto-stadion speel.

Daar is ook verder besluit dat die wedstryd tussen Japan en Skotland ook sal voortgaan. Die wedstryd word om 12:45 (SA tyd) in die Internasionale Stadion in Yokohama gespeel.

Die reëlingskomitee het ʼn beroep op ondersteuners wat die wedstryde bywoon, gedoen om seker te maak van hul reisreëlings voor hulle na die stadion begin beweeg.

Die aankondigings kom nadat die wedstryde tussen Nieu-Seeland en Italië en Engeland en Frankryk wat Vrydag sou plaasvind ook gekanselleer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.