Nóg ʼn yslike terugslag vir die Blitsbokke

Justin Geduld – gebreekte kakebeen. (Foto: fijivillage.com)

Die Blitsbokke is heel waarskynlik die span met die grootste diepte in Wêreldrugby se sewesreeks, maar is met nóg ʼn terugslag tussen die beserings en terugkerendes na Superrugby geslaan.

Justin Geduld, wat die grootste puntemaker in die voorlaaste toernooi in Sydney was, het sy kakebeen in die daaropvolgende toernooi in Hamilton gebreek en sal die volgende twee toernooie, in Las Vegas en Vancouver, misloop.

Geduld het tot dusver 110 punte (agt drieë, 35 doelskoppe) aangeteken.

♦  Hy sluit hom aan by die mees ervare speler in die Blitsbokke se groep, Chris Dry, wat weens ʼn kniebesering vir die hele reeks uit is. Daar is ook steeds die onsekerheid oor die ander beseerdes Dylan Sage (harsingskudding), Ruhan Nel (knie), en Philip Snyman, Rosko Specman en Muller du Plessis (almal dyspierbeserings) ná die toernooie in Australasië.

Die afrigter Neil Powell sê volgens SA Rugby se mediaverklaring hy hoop van die hierdie laaste klomp spelers mag darem wél vir die twee Noord-Amerikaanse toernooie beskikbaar wees.

♦  Dan is die voorste driedrukker in die reeks, Seabelo Senatla (30 drieë), saam met Sikhumbuzo Notshe (albei Stormers), Kwagga Smith (Lions) en Tim Agaba (Bulls) boonop vir hulle Superfranchise’e vrygestel.

Die toernooi in Las Vegas begin op 2 Maart en dié in Vancouver word die volgende week gespeel.

Die Blitsbokke is ná vier toernooie steeds voor op die reeks se punteleer en het tot dusver ook die meeste punte in die reeks aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gatvol ·

Nee! nie n yslike terugslag nie. Net n gewone terugslag. Daar is tog sekerlik ander spelers wat net so goed is om sy plek vol te staan?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.