Nog nie heeltemal reg nie, maar die Bulls beur boontoe

Travis Ismaiel, met Hanro Liebenberg en Jan Serfontein byderhand, se lopie word gestuit. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls het Saterdagaand, in slegs hulle tweede wedstryd op Loftus, ook op dié veld hul tweede Superoorwinning van die seisoen behaal toe hulle die Jaguares 26-13 geklop het.

Hulle vorige sege was in die eerste kragmeting teen die Sunwolves.

Met dié oorwinning het die Bulls na die tweede plek in Afrika se afdeling een bo die Cheetahs ingeskuif.

Dit was nog ver van volmaak af en was in die geheel ʼn ietwat slordige wedstryd weens die effense nat veld wat hanteerwerk bemoeilik het. Maar die Bulls het eintlik in al die blokkies regmerkies verdien.

Hulle het, veral in die eerste helfte, heelwat gehardloop en ook dikwels gevaarlik gelyk. Die gladde aansluiting tussen spelers was beter, maar nog nie reg nie, maar dis ʼn groot voorwaartse stap.

Die Bulls se lynstaanwerk was goed, hulle het by die afbeekpunte, weer eens veral voor rustyd, die Jaguares groot probleme besorg en heelwat strafskoppe afgedwing.

Die skrums, ʼn gewaande swakpunt, was Saterdagaand ʼn sterkpunt. Trevor Nyakane, met uitstekende skrumwerk aan albei kante van die skrum, die meeste duikslae en talle omkeerballe is as speler van die wedstryd aangewys. Hy was pure Bok.

Handré Pollard het sy beste wedstryd die seisoen gespeel en ook goed pale toe geskop. (Foto: GB Jordaan)

Agterlangs het Handré Pollard nog ʼn stappie na sy beste gegee en met ses uit ses skoppe pale toe geslaag. Hy het sy spel goed afgewissel en ʼn paar keer sy pad probeer deurforseer om sy senters teen die opskietverdediging van die Jaguares te beskerm.

En waar was Jesse Kriel die afgelope tyd? Op heelagter was hy vlymskerp en het hy met twee lang lopies vorendag gekom, en op senter het hy een keer die lyn gesny.

Nou is dit vir die Bulls die uitdaging om hul geleenthede meer dikwels in punte te omskep.

Puntemakers –

Bulls (13) 26: Drieë: Travis Ismaiel, Lood de Jager. Doelskoppe: Handré Pollard 2. Strafdoele: Pollard 4.
Jaguares (3) 13: Drie: Gonzalo Bertranau. Doelskop: Santiago Gonzalez Iglesias. Strafdoele: Gonzalez Iglesias.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Riaan ·

Ag tog, nou wen die Bulls weer die beker na die wen.
More is die hele Pta weer blou want Bulls het gewen, maar verloor hulle moet die hele bestuur afgedank word!!!

Arie ·

Jy klink na ‘n regte ou suur gat! Bestuur en afrigters moet loop want hulle is useless en selfs dan gaan dit ‘n rukkie vat om weer bo uit te kom, al die ander spanne het afrigters wat vir die bokke gespeel het behalwe ons en dis duidelik sigbaar. Jy klink na ‘n leeu ou sure

Beets ·

Bulls sal weer wen nou dat hulle terug is op Loftus. Hulle was maar nog altyd vrot oorsee, so al hul weg-verlore was nie eintlik ‘n verrassing nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.