Nog twee Boksenters onttrek met beserings

Jean-Luc du Preez lyk na die man wat in Duane Vermeulen se plek sal speel. (Foto GB Jordaan)

Drie van die Springbokke in die groep van 32 spelers wat sedert verlede Maandag vir die toetsreeks teen Frankryk voorberei, sal nie vir Saterdag se eerste toets op Loftus oorweeg word nie.

Die twee senters, Lionel Mapoe en Damian de Allende, en ook die ervare vuurvreter-losvoorspeler Duane Vermeulen wat as nommer sewe-flank geoormerk was, het beserings.

Mapoe sukkel met ʼn dyspierbesering, De Allende se kneusing wat hy in die Stormers se laaste Superwedstryd opgedoen het pla nog, en Vermeulen het sy skouer in Sondag se eindstryd van die Franse se Top14-reeks beseer.

Vermeulen kom Dinsdagaand eers in Suid-Afrika aan waarna die Springbokke se mediese span ʼn idee sal vorm oor die erns van sy besering. Jean-Luc du Preez is tien dae gelede by die Bokgroep ingesluit omdat daar onsekerheid was oor wanneer Vermeulen by die span sou aansluit.

Du Preez lyk nou na die sekere keuse as vaskopflank.

De Allende en Mapoe sal na verwagting later in die reeks kan speel.

♦  Drie senters in die Bokgroep het dusver weens beserings onttrek. Die Sharks se Lukhanyo Am het, soos De Allende, in die laaste Superwedstryd seergekry toe hy sy wangbeen teen die Stormers gekraak het. Mapoe is toe in sy plek van die SA A-span opgeroep.

Die twee senters in Suid-Afrika se laaste toets verlede jaar, Rohan Janse van Rensburg en Swys Venter, kon ook weens beserings nie vir die reeks oorweeg word nie.

Dit laat die Bokke met Jan Serfontein, die veelsydige Frans Steyn en Jesse Kriel as senteropsies.

Die uiteindelike keuse sal interessant wees. Steyn het vanjaar meestal as losskakel vir Montpellier diens gedoen, Kriel het vir die Bulls senter en heelagter – en een keer ook vleuel – gespeel en Serfontein was as binne- en buitesenter een van die Bulls se min uitblinkers in ʼn swak seisoen.

♦  Vermeulen het Saterdag 30 geword en die dag na sy verjaarsdag nie ʼn gelukkige nuwe lewensjaar binnegegaan nie. Sy span, Toulon het in Sondag se eindstryd met 16-22 teen Clermont Auvergne vasgeval.

Benewens Vermeulen was die Springbokke Juan Smith, Marcel van der Merwe en Juandré Kruger ook in die verloorspan. Dit was Smith se laaste wedstryd vir die klub.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jaybee ·

My persoonlike mening is dat Venter en Serfontein die senters moet wees. Dit is jammer dat L Cronje nie gekies is nie, hy kon as plaas vervanger agter speler gebruik word.

Nico L ·

Jammer oor Mapoe want hy verdien sy plek, maar baie bly “Die Ellende” is uit.

Nico K ·

Ek het baie lank laas vir Steyn sien speel, maar hy het baie talent. Ek sal hom speel.

Anoniem ·

Dit is jammer dat Duane Vermeulen nie beskikbaar is nie, want hy sou saam met Eben Etzebeth ‘n bietjie meer “mongrel” aan die pak voorspelers verleen het. Daar is baie talentvolle losvoorspelers in die groep, maar bitter min hardekwasse in die ware sin van die woord en dit is waar ons die wedstryde gaan wen of verloor.

k ·

Nee wat Cheethas word oor die hoof gesien, ek skreeu vir die Franse

Fires ·

Du Preez is die man vir die job, ek twyfel of Vermeulen na sy laaste twee wedstryde wat basies net uit stormram lopies bestaan het voldoende sou herstel

Said ·

serfontein is op pad oorsee en sal nie verder beskikbaar wees nie so wat de dinges soek hy daar, was nog nooit n wedstrydwenner op daai vlak.. speel steyn en Jesse (steyn en die beseerde Ruan speel baie soortgelyk)
en die vorige skrywer is reg, duane het stadig geword in die nay weer oorsee, kon ook geen bydrae vir bokke lewer sederd hy oorsee speel, ons het genoeg stutte en GROOT slotte as jy baldraers en stormramme soek. los nou die manne oorsee sodat hul euros verdien, meeste van hul het hul kant gebring toe hul hierwas en verdien n pensioen joppie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.